Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-02 Reporter: Adriaan Basson Reporter: Dries Liebenberg Reporter: Alet Pretorius

Shaik Verkla oor Beweerde Rasvoorval by Hof

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-02

Reporter

Dries Liebenberg, Adriaan Basson, Alet Pretorius

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Herstelwerk aan 'n koninklike paleis pleks van adj.pres. Jacob Zuma se R1,34 miljoen-ontwikkeling in Zoeloeland.

Dít is waarvoor die geld aangewend is wat die Franse wapenvervaardiger Thomson-CSF ingevolge 'n diensverskafferooreenkoms aan mnr. Schabir Shaik betaal het.

Mnr. Johan van der Walt van KPMG het gistermiddag hierdie toegewing gemaak aan die einde van sy eerste dag van strawwe kruisondervraging deur adv. Francois van Zyl SC.

Shaik word onder meer daarvan aangekla dat hy Zuma omgekoop het om die Franse maatskappy in die wapenondersoek te beskerm, asook van geldwassery.

Die staat het aangevoer dat die omkoopgeld vir die ontwikkeling van Zuma se tradisionele tuiste by Nkandla in Zoeloeland aangewend is.

Volgens die staat was die diensverskafferooreenkoms tussen Shaik se Nkobi-groep en Thomson-CSF 'n rookskerm vir die omkoopgeld.

In kruisondervraging het Van der Walt toegegee dat Thomson-CSF se R250 000 uiteindelik aangewend is vir meer as R320 000 se herstelwerk aan 'n koninklike paleis by Nongoma waar 'n gewese vrou van koning Goodwill Zwelithini, die Zoeloe-monarg, woon.

Drie kwitansies vir herstelwerk by die Nongoma-paleis aan Development Africa het Van der Walt van mening laat verander.

Totdat die verdediging dié kwitansies aan die hof voorgelê het, het Van der Walt gesê hy beskou dié betalings deur Development Africa as kontantbetalings wat vir die Nkandla-ontwikkeling aangewend kon gewees het.

Shaik het R900 000 hiervan uit Zuma se bankrekening na Nkobi-maatskappye oorgeplaas.

Van der Walt het volgehou dat Zuma steeds voordeel getrek het uit Thomson-CSF se betaling omdat Development Africa andersins die politikus weens die skuld kon gedagvaar het.

Intussen is nóg twee strafregtelike aanklagte gister teen Shaik ingedien ná 'n onderonsie met 'n polisielid.

Die polisie het die Shaik-gesin se swart BMW gisteroggend toegang tot die parkeerterrein van die Durbanse hooggeregshof geweier, waarop Shaik 'n wit polisielid van rassisme beskuldig het.

Die Shaik-motor was tot eergister elke dag van die verhoor voor die hof geparkeer - plek wat gereserveer is vir werknemers by die hof.

Gister het polisielede egter geweier om die hefboom op te lig en Shaik het uit die motor geklim.

Hy het 'n wit polisielid vir 'n "rassis" uitgeskel en gesê ons is nou in die nuwe Suid-Afrika, nie die ou Suid-Afrika nie.

"Die wit mense kan hier parkeer, maar ons swart mense kan nie, want ons is nie goed genoeg nie," het 'n ontstoke Shaik gesê voordat hy die hofgebou in is.

Die Durbanse polisie het gisteraand bevestig dat die polisielid aanklagte van intimidasie en crimen injuria (opsetlike aantasting van eer) teen Shaik ingedien het.

Met erkenning aan Dries Liebenberg, Adriaan Basson, Alet Pretorius en Die Burger.