Regter Maan Media |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-22 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Die staat het 'n sterk pleidooi gerig dat die media gelas moet word om nie getuienis oor 'n forensiese oudit in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik vooruit te loop nie.
Ofskoon regter Hilary Squires nie so ver gegaan het as om te gelas dat die media nie nou reeds kopieë van die hele verslag mag kry nie, het hy 'n vroeëre waarskuwing herhaal dat getuienis nie vooruitgeloop moet word nie.
Squires het gesê die verslag het 'n openbare dokument geword toe dit gister in die geheel as bewysstuk by die hof ingedien is. Hy het bygevoeg dat die media en die publiek dit mag besigtig, maar nie verwyder nie.
Dié versoek van adv. Billy Downer SC, hoofaanklaer, kom nadat 'n Durbanse Sondagkoerant, die Sunday Tribune, die naweek woordeliks uit die verslag aangehaal het nog voordat dit as bewysstuk in die hof ingedien is.
Downer het Maandag in die hof beswaar gemaak en dit as "sensasionele" beriggewing bestempel, wat "grens aan 'n oortreding van die sub judice-reël".
Dit hou ook die gevaar in dat die regverdigheid van die verhoor in die gedrang gebring kan word, het hy gesê.
Hier het Squires ook 'n vermaning tot joernaliste en redakteurs gerig dat bewysstukke eers in 'n hof getoets moet word.
Downer het gister gesê al is die hele verslag as bewysstuk ingedien, wil hy voorkom dat joernaliste uit dele daarvan aanhaal waaroor eers later getuienis gelei gaan word.
Buiten die hoofverslag, wat vroeër aan die verdediging beskikbaar gestel is, is daar ook 'n addendum wat bygevoeg is om sekere standpunte te kwalifiseer, het Downer gesê.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.