Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-13 Reporter:

Regter Weier TV-Kameras by Shaik-Saak

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-13

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Regter Hilary Squires het gister 'n deur oopgelos dat die Schabir Shaik-verhoor op radio uitgesaai kan word nadat hy e.tv se aansoek om dit op televisie te vertoon, verwerp het.

Squires het in sy uitspraak gesê die media kan hom weer toespreek as sy "probleme" aandag gekry het. TV-kameras kan getuies intimideer en tot 'n onregverdige verhoor lei, het die regter bevind.

Die SAUK het eergister saam met e.tv aansoek gedoen om die verhoor regstreeks op televisie én radio uit te saai, maar hul aansoek was te laat.

Die openbare uitsaaier se regsverteenwoordigers kon nie gisteraand bevestig watter stappe hulle gaan doen nie, maar by navraag gesê dat 'n sterk moontlikheid op radio-uitsendings bestaan.

"Ons moet nog instruksies kry. Indien ons 'n nuwe aansoek bring, sal dit binnekort moet wees," het mnr. Pierre Smith, die SAUK se prokureur, gesê. Me. Kitten Matthews, die SAUK se hoofregsadviseur, sou die openbare uitsaaier gisteraand voorlig en 'n besluit oor of die SAUK so 'n aansoek sou rig, word vanoggend verwag.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se voormalige finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog wat verband hou met die regering se omstrede wapenkontrak. Die verhoor is weens e.tv se aansoek met twee dae vertraag.

Die regter het gister "in belang van geregtigheid" geweier dat videokameras die strafregtelike verhoor wat vandag begin, opneem. Volgens hom kan dit getuies intimideer en die regverdigheid van die verhoor en geldigheid van die uitspraak in gedrang bring.

'n Ontstelde mnr. Dan Rosengarten, e.tv se prokureur, het gesê hulle gaan "ten minste" probeer om die slotbetoë van die staat en Shaik se regspanne en Squires se uitspraak regstreeks op televisie uit te saai.

In sy uitspraak het Squires die regte van spraakvryheid (waarop mediavryheid berus), getuies se reg tot privaatheid as individue, die beskuldigde se reg op 'n regverdige verhoor en die beginsel dat 'n verhoor in 'n ope hof moet geskied teen mekaar opgeweeg.

Die gevaar is te groot dat die teenwoordigheid van TV-kameras in die hof getuies kan intimideer en dat hulle nie vryelik sal getuig nie, het Squires bevind.

Mnr. Yunus Shaik, Schabir Shaik se prokureur-broer, het die Shaik-familie gister by die hof verteenwoordig. Hy was verheug oor Squires se uitspraak en het gesê die regter het die regte van 'n beskuldigde daardeur bevestig.

Die eerste getuie in die saak gaan vanoggend geroep word. Nadat die aanklagte vanoggend om tienuur aan Shaik gestel en hy daarop gepleit het, sal adv. Billy Downer SC die staat se saak saamvat en sy eerste getuie roep: die akademikus, sakeman en politikus prof. Themba Sono.

Sono se verbintenis met Shaik wortel in sy voormalige pos as uitvoerende direkteur van Shaik se maatskappy Nkobi Holdings, wat self as regspersoon in die saak aangekla word.

Sono het in Januarie 1997 uit die pos bedank ná 'n stryery met Shaik. Sowat R75 000 was glo betrokke.

Hy sou onder meer lig kon werp op gebeure in direksievergaderings van Nkobi Holdings.

In politieke kringe staan Sono, tans onderleier van die Onafhanklike Demokrate, as uiters uitgesproke bekend.

Met erkenning aan Die Burger.