Faks in Shaik-Saak op Rekenaarskyf |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-27 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Die bestaan van 'n getikte Franse faks, die staat se belangrikste getuienis om te bewys mnr. Schabir Shaik het gereël dat adj.pres. Jacob Zuma omkoopgeld ontvang, is gister deur 'n rekenaardeskundige bevestig.
Mnr. Bennie Labuschagne van die firma Computer Security and Forensic Solutions het gister in die Shaik-verhoor getuig hy het bevind me. Sue Delique, 'n gewese sekretaresse by die wapenmaatskappy Thomson-CSF (Thint), het wel die omstrede faks op 17 Maart 2000 getik en op 'n rekenaarskyf gestoor.
Delique het vroeër getuig mnr. Alain Thétard, Thint se voormalige direkteur in Suid-Afrika, het 'n handgeskrewe nota aan haar gegee om te tik en na mnr. Yann de Jomaron, die Thomson-groep se hoof van verkope in Afrika, en mnr. Jean-Paul Perrier, 'n direkteur van die moerdermaatskappy, te faks.
Die dokument, getiteld "JZ.doc", is in September vanjaar deur Delique op 'n rekenaarskyfie ontdek wat sy glo saam met haar geneem het ná haar bedanking.
Voordat sy die getikte weergawe ontdek het, moes die staat op die handgeskrewe nota staatmaak.
Thétard het reeds erken hy was die outeur van die handgeskrewe weergawe, maar het in 'n latere verklaring gesê dié nota is na sy wete nooit getik en gefaks nie.
Shaik staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Die staat beskou die faks, wat getik is ná 'n beweerde vergadering tussen Shaik, Zuma en Thétard op 11 Maart 2000 in Durban, as bewys dat Shaik betrokke was by die "omkopery" van Zuma teen R500 000 per jaar in ruil vir die ondersteuning van Thomson-CSF en die beskerming van die maatskappy teen 'n wapenondersoek. Dié dokument bevat besonderhede oor die Durban-ontmoeting en bepalings van die "Zuma-ooreenkoms".
Thint en Shaik se Nkobi-groep het deur hul aandeelhouding in African Defence Systems (ADS) baat gevind by die regering se wapentransaksie. ADS het die R1,3 miljard-kontrak gekry vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe fregatte.
Labuschagne het in opdrag van die Skerpioene die hardeskyf van Delique se persoonlike rekenaar asook rekenaarskyfies nagegaan. Hy moes ook spesifieke dokumente bekyk op die rekenaars van die Nkobi-groep en Thint waarop die Skerpioene beslag gelê het.
Hy het bevind dat die faks op 17 Maart 2000 om 10:18 deur "Sue" geskep is op 'n standaard Thint-briefhoof wat op die werk se rekenaars geberg is. Om 10:49 is die faks gedruk en om 12:25 is die dokument op 'n rekenaarskyfie gestoor. Daar was ook verskeie oproepe op Thint se faksmasjien vanaf 11:40 na die groep se hoofkantoor in Parys, het die hof gehoor.
Labuschagne kon nie die faks op Thint se rekenaars vind nie. Dié rekenaars is egter eers in 2001 in gebruik geneem.
Dis sou volgens Labuschagne egter onmoontlik gewees het om die dokument in 'n latere stadium te skep en dit te laat lyk of dit op 17 Maart 2000 gedoen is.
Adv. Francois van Zyl, namens Shaik, het tydens Delique se getuienis gesê hy gaan die toelaatbaarheid van die dokumente later teenstaan.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en Die Burger.