Shaik het 'Name Rondgegooi' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-14 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Politieke konnektiwiteit. Dié begrip is mnr. Schabir Shaik se bydrae tot die plaaslike politieke leksikon nadat prof. Themba Sono, OD-onderleier en voormalige uitvoerende direkteur van Nkobi Holdings, dit gister bekend gestel het aan die Durbanse hooggeregshof, waar Shaik teregstaan op aanklagte van bedrog en korrupsie.
"Politieke konnektiwiteit" was wat Shaik volgens Sono aan potensiële sakevennote voorgehou het as sy maatskappye se bydrae tot 'n vennootskap in die afwesigheid van geld of tegniese vaardighede.
Een van die staat se bewerings - dat Shaik van meet af aan sou staatgemaak het op sy politieke kontakte om 'n deel van die fregat-kontrak in die wapenpakket te bekom - het gister 'n knou gekry.
Sono het in kruisondervraging toegegee dat Shaik nooit op 'n Nkobi-bosberaad was waar hy (Shaik) na bewering sou gesê het sy politieke verbintenisse maak op vir 'n gebrek aan vaardigheid nie.
Sono het getuig dat Shaik dikwels aan moontlike vennote gesê sy maatskappy kan "welwillendheid" bydra omdat dit 'n swartbemagtigingsgroep is, hierdie die nuwe Suid-Afrika is, en hul politieke konnektiwiteit tot voordeel van die vennootskap kan strek.
Só is 'n plofbare situasie in onderhandelings met Denel glo byvoorbeeld ontlont.
Sono was van 1996 tot 1997 by Shaik se Nkobi Holdings betrokke en het mense in die hof laat grinnik met sy komiese vertellings van hoe Shaik die name van adj.pres. Jacob Zuma en oudmin. Mac Maharaj rondgegooi het om potensiële vennote te beïndruk.
Shaik het volgens Sono verwag om direkteur-generaal te word as Zuma adjunkpresident word. Sono het glo gereageer deur vir Shaik te sê hy is nie geskik vir die pos nie omdat hy eers 11:00 begin werk. "Ek het nooit getwyfel aan die moontlikheid dat hy so 'n pos kan kry nie, maar wel oor sy geskiktheid daarvoor."
Op 'n vraag of Sono wou ryk word uit sy sakeverhouding met Shaik, waaruit hy aanvanklik maandeliks R5 000 en later R15 000 gekry het, het Sono gesê nie aanvanklik nie. Shaik het egter glo op 'n keer gesê: "Ek gaan van jou 'n miljoenêr maak," waarop Sono "Ja, ja, ja," geantwoord het.
Ná 'n paar maande het die verhouding tussen Shaik en Sono versleg. Onder meer het die maatskappy se salaristjeks 'n slag gehop en Sono het R75 000 van sy eie geld gebruik om personeel te betaal. Dit het hom jare gevat om dié geld terug te kry terwyl Shaik hom van Pontius na Pilatus gestuur het, het hy gesê.
Volgens Sono is hy in die duister gehou oor die bedryf van die onderneming; Shaik se rondgooi van politici se name het hom verontrus; sy navrae is ontwyk; en hulle het verskil oor die toepassing van swart- ekonomiese bemagtiging.
Sono se weergawe is dat hy Shaik gepols het oor die voortgesette gebrek aan vaardigheid in Nkobi. Later het hy verduidelik hy sien bemagtiging nie as die herhaling van die vorige bedeling se etniese bevoorregting van Afrikaners nie, maar as die skep van geleenthede vir massas swart mense eerder as 'n elite.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Dries Liebenberg en die Beeld.