Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-18 Reporter: Dries Liebenberg

Rooi Dagboek Werp Lig Op Bewegings

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-18

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Groot rooi dagboek waarin die afsprake van mnr. Schabir Shaik vir 2000 aangeteken is, het 'n week gelede toevallig opgeduik toe sy voormalige sekretaresse tuis kaste reggepak het.

Dit het Maandag in die Durbanse hooggeregshof aan die lig gekom tydens Shaik se korrupsieverhoor.

2000 is een van die bepalende jare in die staat se saak dat Shaik betrokke was by die omkoop van adj.pres. Jacob Zuma om 'n Franse maatskappy, Thomson-CSF, wat by Suid-Afrika se wapenaankope betrokke is, te beskerm.

Beweerde gebeure in dié jaar sluit volgens die staat in:

Die ooreenkoms in Maart in Durban dat Zuma omkoopgeld betaal word;

Reëlings vir 'n besoek aan Thomson se hoofkantoor in Parys;

Die sluit van 'n "diensverskaffingsooreenkoms" met Shaik se Nkobi-groep in November by die kantoor van die Thomson-filiaal in Mauritius.

Die ooreenkoms sou glo as dekmantel vir Zuma se omkoopgeld dien.

Mev. Bianca Singh, voorheen Shaik se sekretaresse, het Maandag getuig sy het sowat 'n week gelede op die dagboek afgekom.

Dit is weggepak en het vergete geraak toe sy en haar gesin vroeër verhuis het.

Singh het gesê sy het haar dagboek saans huis toe geneem terwyl sy tussen 1999 en 2000 Shaik se sekretaresse was omdat hy haar soms tuis gebel het om oor sy afsprake te verneem.

Dit het daartoe gelei dat sy die dagboek in November 2000 by die huis gelos het toe sy saam met Shaik na Mauritius gereis het vir 'n vergadering met mnr. Alain Thétard van die Thomson-groep.

By dié ontmoeting het Shaik en Thétard die wapenondersoek bespreek en Shaik het gesê as 'n sekere persoon van die ANC sy mond oopmaak, het hulle groot probleme, het Singh getuig.

Sy het die notules van dié vergadering in 'n swart aktetas by die ontvangstoonbank van hul hotel gelos ná 'n voorval in Shaik se hotelkamer, het Singh getuig.

Die dagboek staaf ontmoetings waarop die staat sy saak bou.

Aan die hand van 'n stelsel kodes van dié sekretaresse, wat kort ná matriek vir Shaik begin werk het, kon Singh aandui watter vergaderings is bevestig. Aantekenings in dié dagboek wys watter reëlings vir watter van die betrokke vergaderings getref is.

Sy het ook Thomson-fakse wat laat blyk waaroor dit sou gaan, destyds in die dagboek gekram.

Die dagboek het selfs aan die lig gebring dat 'n lid van die polisie se blitspatrollie gereeld Nkobi se besoekers op die lughawe gaan haal het.

Vier jaar nadat sy die dagboekinskrywings gedoen het, kon Singh aandui watter inligting sy by ander maatskappye se sekretaresses gekry het en watter Shaik aan haar verskaf het.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.