Publication: Beeld Issued: Date: 2004-12-09 Reporter: Donwald Pressley Reporter:

Shaik-Firma Kry Weer Kontrak vir Rybewyse

 

Publication 

Beeld

Date 2004-12-09

Reporter

Donwald Pressley

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Mnr. Schabir Shaik, die omstrede finansiële raadgewer van adj.pres. Jacob Zuma, het 'n hernuwing van die tender vir die vervaardiging van die amptelike kredietkaart-rybewyse gekry.

Dit het geblyk uit 'n antwoord van mnr. Jeff Radebe, minister van vervoer, op 'n parlementêre vraag van mnr. Stuart Farrow, die DA-woordvoerder oor vervoer.

Farrow is meegedeel dat die tender, met 'n waarde van R650 miljoen, vir vyf jaar hernu is. Volgens Farrow was die oorspronklike kontrak met Shaik se maatskappy R260 miljoen werd.

Die direkteur-generaal van vervoer, me. Wrenelle Stander, was nie Donderdag vir kommentaar beskikbaar nie, maar mnr. Ian Phillips, die departement se spesiale raadgewer, het bevestig dat die tender hertoegeken is.

Farrow het Donderdag gesê Prodiba, 'n maatskappy van Shaik, het die kontrak vir die vervaardiging van die kaartgrootte lisensies ontvang ondanks die feit dat Prodiba nie aan die voorwaardes van die kontrak kon voldoen nie.

"Hoewel Prodiba die lisensie-kontrak ontvang het op voorwaarde dat hy die strepieskode-skandeerders verskaf wat gebruik word om die kaarte te lees, is die departement nou besig om kaartleser-toerusting te koop wat die jongste tegnologie benut," het Farrow Donderdag gesê.

Hy het gesê 1 000 skandeerders is reeds vir R28,6 miljoen teen heersende pryse van Augustus 2002 gekoop.

"Wat die hernuwing van die kontrak nog onverstaanbaarder maak, is dat dit gebeur het te midde van aanklagte van korrupsie teen Shaik en sy maatskappy en aantygings van die aanvaarding van omkoopgeld deur die gewese minister van vervoer, mnr. Mac Maharaj."

Dié aantygings word nog deur die spesiale ondersoekeenheid, die Skerpioene, ondersoek.

"Ek glo dat die Skerpioene ook die hertoekenning van die kontrak aan Shaik moet ondersoek om te bepaal of daar gronde vir die weiering daarvan is en beplan om die saak aan hulle voor te lê," het Farrow gesê.

Met erkenning aan Donwald Pressley en die Beeld.