Samaritaan of Skurk? |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-13 |
Reporter |
Adriaan
Basson, Dries Liebenberg, |
Web Link |
Durban - Mnr. Schabir Shaik is of 'n skurk of 'n Samaritaan, afhangend van wie jy glo ná Woensdag se verrigtinge in sy verhoor op aanklagte van bedrog en korrupsie.
Regter Hilary Squires het in die Durbanse hooggeregshof gehoor hoe Shaik in sy pleitverduideliking homself skilder as iemand wat adj.pres. Jacob Zuma telkens uit die moeilikheid gehelp het as vriend en bewonderaar, sonder om iets terug te verwag.
Adv. Billy Downer, SC, vir die staat het 'n prentjie geteken van 'n situasie waarin Shaik sy verbintenis met Zuma uitgebuit het in die hoop op rykdom deur die regering se wapentransaksie.
Oudpres. Nelson Mandela, pres. Thabo Mbeki, Zuma, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van buitelandse sake, mnr. Aziz Pahad, haar adjunk, en dr. Zweli Mkhize, onderleier van die ANC in KwaZulu-Natal, is almal betrek in Shaik se pleitverklaring.
Mbeki het volgens Shaik in 1998 'n afskrif ontvang van 'n brief waarin Shaik 'n hoë amptenaar van die wapenvervaardiger Thomson CSF versoek om hom (Shaik) as gepaste swart bemagtigingsvennoot te bespreek met Zuma.
In Shaik se pleitverduideliking sit hy uiteen hoe Zuma hom vir die ANC gewerf en hoe hul vriendskap- en sakeverhouding gegroei het.
Shaik het onthul dat Zuma teen die middel 1990's soveel geldprobleme ondervind het dat hy dit oorweeg het om uit die politiek te tree.
Shaik wou dit nie toelaat nie, en het Zuma se adviseur geword.
Shaik voer aan hy het hulp aan Zuma deurgaans gesien as 'n vriendskapsgebaar.
Hy sou dit as skenkings wou hanteer, maar Zuma wou dit nie toelaat nie.
Shaik wou nie rente hê op die lenings van Zuma nie. Hy het ook herhaaldelik gesê sy bydrae was vir die ANC.
Shaik het ook vertel hoe hy 'n veilige woonstel vir Zuma gekry het ná 'n faks van die destydse minister van intelligensie, mnr. Joe Nhlanhla, dat 'n aanval op Zuma se lewe gevrees word.
Shaik erken dat Zuma met Thomson CSF vergader het om Shaik se gepastheid as bemagtigingsvennoot te bevestig.
Downer het 'n ander prentjie geskilder. Hy het die regter op 'n ingewikkelde reis deur Shaik se verwante maatskappye geneem wat hy beskryf het as die beskuldigde se "alter ego's".
Downer het aangedui dat daar naas die formele proses in die wapentransaksie ook 'n "informele proses" was wat geheime vergaderings, e-posse, fakse en oneerlike betalings ingesluit het.
"As die informele proses slaag, volg die suksesvolle kontrak en die geld," het Downer gesê.
Squires wou by hom weet wat korrupte voorneme behels.
"Die bekom van voordele waartoe lede van die publiek nie toegang het nie.
"Jy kan 'n politikus korrup maak deur hom te betaal om iets te doen wat hy as sy alledaagse taak behoort te doen," het Downer gesê.
Hy het aangetoon hoe betalings van R1,2 miljoen die likiditeit van Shaik se maatskappy , Nkobi Holdings, erg getref het sodat die maatskappy op die rand van bankrotskap was.
Volgens die staat is die geld wat Shaik aan Zuma verskaf het, as "ontwikkelingskoste" op die boeke afgeskryf.
Squires het aan Downer gevra hoekom Zuma vir Shaik sou voorspraak doen by die wapenvervaardiger: "Sou daar iets meer sinister in steek as swart ekonomiese bemagtiging," wou hy weet.
Downer het bevestigend geantwoord en gesê dat Zuma daarvoor betaal is. Die verhoor duur vandag voort.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Dries Liebenberg, Adriaan Basson en die Beeld.