Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-13 Reporter: JanJan Joubert

Schabir se Brief oor Wins ook na Mbeki

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-13

Reporter

Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Pres. Thabo Mbeki is in 1998 ingelig dat mnr. Schabir Shaik, wat in die Durbanse hooggeregshof teregstaan op aanklagte van bedrog en korrupsie, as bemagtigingsvennoot wou deel in die opbrengs van die regering se wapentransaksie.

Die verhouding tussen Mbeki, adj.pres. Jacob Zuma en Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, het Woensdag tydens Shaik se verhoor aan die bod gekom in laasgenoemde se pleitverduideliking.

Ter sprake is 'n ontmoeting wat op 18 November 1998 tussen Zuma en mnr. JP Perrier, uitvoerende voorsitter van internasionale sake van die wapenvervaardiger Thomson CSF, in Shaik se kantoor plaasgevind het.

Shaik het teen daardie tyd 'n paar jaar lank al probeer om deur middel van Thomson CSF as swartbemagtigingsvennoot by die wapentransaksie betrokke te raak. Luidens sy pleitverduideliking het Shaik "bewus geword dat Thomson CSF ingelig is dat senior lede van die ANC nie my maatskappye as gepas beskou om as bemagtigingsvennoot te hê vir die verskaffing van wapens aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie".

"Thomson CSF was dus bekommerd dat my betrokkenheid hul kanse om as leweransier aangestel te word, kon belemmer.

"Omdat ek geweet het dié inligting is heeltemal verkeerd, het ek 'n brief aan Perrier geskryf om die kwessie met Zuma as onderleier van die ANC te bespreek. Afskrifte van die brief is ook gestuur aan Zuma en aan mnr. Thabo Mbeki as leier van die ANC," lui die pleitverduideliking.

Nadat 'n meningsverskil tussen Shaik en die wapenvervaardiger ontstaan het, het Perrier volgens Shaik besluit om self te kom kyk of Shaik se maatskappye vir die ANC aanvaarbaar is as bemagtigingsvennoot.

Nadat 'n paar afsprake tussen Zuma en Perrier deur die mat geval het, het dit uiteindelik op 18 November plaasgevind.

Op dieselfde dag is aangekondig dat 'n Duitse konsortium die kontrak gekry het vir die verskaffing van korvette.

African Defence Systems (ADS), die maatskappy waarin Thomson CSF 'n groot belang het, is as subkontrakteur aangewys vir 'n deel van die vervaardiging van die korvette.

Teen Julie 1999 het Thomson CSF se mening oor Shaik as bemagtigingsvennoot só verander dat een van sy maatskappye 'n indirekte belang van 20% in ADS verkry het.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.