'Shaik-Firma Help Zuma se Huis Betaal' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-28 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Die Nkobi-groep van mnr. Schabir Shaik het glo R500 000 tot die ontwikkeling van adj.pres. Jacob Zuma se tradisionele woning van R1,34 miljoen in Zoeloeland bygedra.
Dít het Donderdag geblyk uit die getuienis van mnr. Johan van der Walt oor KPMG se forensiese ontleding van hoe daar vir dié ontwikkeling betaal is.
Van der Walt het ook 'n geheimsinnige trustfonds, Development Africa, met Zuma se ontwikkeling by Nkandla in verband gebring.
Die staat voer aan dat die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF se beweerde omkoopgeld aan Zuma in dié ontwikkeling gestort is.
Hy lei van die grootte van die lening waarvoor Zuma uiteindelik in 2002 aansoek gedoen het om die ontwikkeling te finansier, af dat die Nkobi-groep se R500 000 ook vir die ontwikkeling aangewend is, het Van der Walt getuig.
Binne twee weke nadat die Nkobi-groep in Februarie 2001 die eerste van vier verwagte paaiemente van R250 000 ingevolge 'n "diensverskafferooreenkoms" van die Thomson-groep ontvang het, is R250 000 aan Development Africa oorbetaal.
Dié "diensverskafferooreenkoms" maak volgens Van der Walt se getuienis geen sin buiten as 'n rookskerm vir betalings aan die Nkobi-groep nie.
Terwyl Shaik gesukkel het om verdere paaiemente van die Thomson-groep te kry, het Kobitech in September 2001 in 'n reeks transaksies 'n verdere R250 000 aan Development Africa betaal.
Zuma het in Junie 2002 om 'n lening aansoek gedoen om die Nkandla-ontwikkeling te finansier nadat dit volgens Van der Walt duidelik geword het dat Thomson geen verdere betalings in verband met die "diensverskafferooreenkoms" gaan doen nie.
Die miljoenêrsakeman en trustee van Development Africa, mnr. Vivian Reddy, het vir Zuma borg gestaan en betaal ook die maandelikse paaiemente van sowat R12 000 op die lening.
Die ontwikkelaar se prokureurs het volgens Van der Walt tydens die leningsaansoek gevra dat hulle R1,15 miljoen betaal word. Di´t dui volgens hom daarop dat hulle onbewus was van die R500 000 wat Nkobi aan Development Africa betaal het.
Nogtans het die leningsaansoek aanvanklik slegs R650 000 bedra wat volgens Van der Walt se berekenings die uitstaande bedrag sou beloop as die Nkobi-groep se R500 000 in ag geneem word.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.