Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-26 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Zuma het Shaik Aanbeveel

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-26

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Brief deur adj.pres. Jacob Zuma aan 'n Skotse akademikus dui daarop dat Zuma mnr. Schabir Shaik, sy finansiële adviseur, in 1999 aanbeveel het as die swartbemagtigingsvennoot vir 'n toerismeprojek in KwaZulu-Natal.

Dié opspraakwekkende brief aan prof. John Lennon, die Skotse akademikus en die brein agter die projek om toerismeskole in Suid-Afrika te begin, is gister as 'n bewysstuk by die hof ingedien.

Luidens dié brief, wat van Nkobi Holdings se kantore gefaks is, het Zuma op 4 Februarie 1999 - hy was toe LUR vir finansies en toerisme in KwaZulu-Natal - Nkobi Holdings as 'n vennoot vir die projek aanbeveel.

Lennon se getuienis is die eerste regstreekse bewyse wat aangebied word dat Zuma as 'n senior regeringsamptenaar glo sy invloed gebruik het om Shaik se Nkobi-groep te bevoordeel.

Die verdediging het die dokument nie betwis nie en bloot gesê dit is van Nkobi se kantore gefaks omdat Zuma glo nie Lennon se faksnommer gehad het nie.

"Dit was duidelik dat Shaik Zuma in 'n mate kon beïnvloed," het Lennon gister getuig.

Shaik staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Die staat beweer onder meer dat Shaik R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gemaak het om sy invloed te "koop".

Volgens Lennon het hy met "soveel as moontlik" mense gepraat wat kon help om sy projek te realiseer.

Een van hulle was Zuma. Lennon het glo 'n vergadering met hom in Zuma se Durban-kantoor gehad waartydens Zuma sy steun aan die projek toegesê het.

Lennon se kontak met die Nkobi-groep het versterk toe hy gesukkel het om die brief van Zuma te kry.

Op versoek van mnr. Deva Ponnoosami, Nkobi se Britse verteenwoordiger, het Lennon glo 'n konsepbrief geskryf wat Zuma moes onderteken. Op 4 Februarie 1999 het Zuma 'n brief aan Shaik van die Nkobi-kantore af gefaks waarin hy Lennon se projek steun, maar ook aanbeveel dat Lennon kontak maak met Nkobi Holdings vir 'n gesamentlike projek.

Op dieselfde dag het mnr. Martyn Surman, namens Shaik, 'n brief geskryf waarin hy verwys na die Zuma-brief en sê dat Lennon vir Shaik moet kontak. Óók op 4 Februarie 1999 het Zuma aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank geskryf dat hy, as LUR vir finansies en toerisme, Lennon se projek ondersteun.

Lennon het op 9 Februarie 1999 teruggeskryf dat hy daarna uitsien om met Shaik te onderhandel en het hom verwys na Lorimer Environmental Consultants - Lennon se "plaaslike agent" in Suid-Afrika.

Surman het op 15 Februarie 1999 hierop gereageer deur te skryf Shaik vind Lennon se reaksie "beledigend". Shaik het glo gedink Nkobi is die enigste Suid-Afrikaanse vennoot en gevra waarom Lorimer hom nie kon help om 'n brief van Zuma te kry nie.

Shaik het Lennon drie dae gegee om na hom terug te kom oor sy kwellings, anders sou hy na Zuma gaan. Op 24 Februarie 1999 het Shaik aan Ponnoosami geskryf hy sal die volgende dag met Zuma praat en "enigiets" doen om Lennon se projek te stop as daar nie aan sy versoeke voldoen word nie.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.