Shaik Dalk Genoodsaak om te Getuig as Faks Toegelaat Word |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-02-11 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Mnr. Schabir Shaik sal 'gedwing' word om in sy eie verhoor te getuig as regter Hilary Squires die berugte gekodeerde Franse faks as 'n bewysstuk toelaat.
Só het adv. Francois van Zyl SC, Shaik se regsverteenwoordiger, gister in die Durbanse hooggeregshof gesê tydens sy betoog waarom die faks nie toegelaat moet word soos die staat vra nie.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Van Zyl het gister begin argumenteer nadat die staat sy betoog afgesluit het waarom Squires 'n aantal betwiste dokumente as bewysstukke behoort toe te laat.
Onder dié dokumente is die berugte faks wat Shaik en Zuma by omkopery betrek.
Daarluidens sal Thomson-CSF Zuma R500 000 per jaar betaal in ruil vir die beskerming teen 'n wapenondersoek en die bevordering van dié maatskappy se belange in Suid-Afrika.
Mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die Franse wapenfirma Thomson-CSF, het in 'n beëdigde verklaring bevestig dat hy die outeur van die "omkoopnota" was, maar het gesê dit was bloot 'n geskrewe nota wat hy opgefrommel en weggegooi het.
Hy weier om in Suid-Afrika te getuig.
Me. Sue Delique, voormalige sekretaresse van Thétard, het vroeër getuig hy het die nota aan haar gegee om te tik en aan die Thomson-base in Parys te faks.
Delique het die geskrewe nota en 'n rekenaarskyfie met die getikte een in haar besit gehad.
Van Zyl het Thétard gister as "oneerlik" beskryf en gesê Shaik weet niks van die faks nie.
"Die geleentheid vir die beskuldigde om Thétard te toets en aan die hof te wys hoe onbetroubaar hy is - en, meer belangrik, hoe onbetroubaar hy op die relevante tye was - sal nou nie materialiseer nie," het Van Zyl aangevoer.
Squires wou by Van Zyl weet hóé hy vir Thétard wou "toets", waarop Van Zyl gesê het deur middel van kruisondervraging.
"Maar jy hoef nie iemand onder kruisverhoor te neem om hom te toets nie," het Squires gesê.
Van Zyl het hierop geantwoord: "Ja, u edele, maar met alle respek, die beskuldigde sal dan in die getuiebank moet gaan staan om homself te verdedig teen hoorsê-getuienis."
Hy het voortgegaan deur te sê "dit kan nooit in die belang van geregtigheid wees dat 'n beskuldigde gedwing word om te getuig nie".
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.