Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-05 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik-Span Verras Met Dokument

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-05

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Opspraakwekkende "geheime" skuldooreenkoms tussen adj.pres Jacob Zuma en mnr. Schabir Shaik het gister vir die eerste keer - in faksvorm - sy verskyning in die Shaik-verhoor gemaak.

Dié ooreenkoms, wat glo op 16 Mei 1999 deur Zuma en Shaik onderteken is en deur Zuma by die parlement se geklassifiseerde bateregister ingedien is, is 'n reuse-troefkaart vir Shaik se verweer dat hy geld aan Zuma geléén en nie gegéé het nie.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Die staat beweer dat Shaik en/of maatskappye in sy Nkobi-groep tussen 1 Oktober 1995 en 30 September 2002 korrupsie gepleeg het deur Zuma se invloed te "koop" met betalings van ongeveer R1,2 miljoen.

Shaik ontken skuld en sê dat dit lenings aan Zuma was.

Mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, het vroeër getuig hulle kon geen bewyse vind dat die betalings van Shaik en/of die Nkobi-groep aan Zuma lenings was nie.

Luidens Shaik se pleitverduideliking het hy nie gedink 'n skulderkenning vir die beweerde lenings aan Zuma is nodig nie, maar het Zuma glo daarop aangedring. Hy het oorspronklik nie rente op die lenings gehef nie omdat dit teen sy Moslem-geloofsoortuigings is.

Op 16 Mei 1999 het Shaik en Zuma egter, luidens die dokument wat gister deur adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, by die hof ingedien is, 'n skriftelike skuldooreenkoms aangegaan.

Van Zyl het die dokument ingedien tydens sy kruisondervraging van Van der Walt.

Luidens die ooreenkoms, waarop Shaik se naam verkeerdelik as "Shabir" gespel is, onderneem Shaik om 'n lening "wat nie R2 miljoen oorskry nie" aan Zuma te maak.

Die lening sou glo vir vyf jaar geld en dan moes Zuma sy skuld én rente op die lening (primakoers plus 2%) terugbetaal. Volgens Van Zyl het Zuma teen Shaik se wil daarop aangedring dat hy rente betaal.

Daar word ook in die ooreenkoms voorsiening gemaak vir regstappe as die lening nie terugbetaal word nie.

Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, het verras gelyk toe die dokument deur Van Zyl ingehandig is en gesê die staat dra "geen kennis" daarvan nie. Regter Hilary Squires het die dokument toegelaat en vir Downer gesê hy kan dit tydens herondervraging in twyfel trek.

Shaik wou nie in teetyd toelaat dat joernaliste die dokument kopieer nie en het later gesê Zuma moet die amptelike deklassifikasie daarvan nog goedkeur.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.