Shaik Sukkel met Bloeddruk, Pyn, Hoor Hof |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-02-08 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Mnr. Schabir Shaik is siek.
Adv. Francois van Zyl SC, Shaik se regsverteenwoordiger, het gistermiddag ná middagete 'n doktersbrief by die Durbanse hooggeregshof ingedien en gesê sy kliënt sukkel met hoë bloeddruk, borspyn en asemhalingsprobleme.
Net voor middagete het Van Zyl 'n boodskap van Shaik ontvang dat hy sukkel om wakker te bly.
Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, was tóé steeds besig om te argumenteer waarom 'n aantal betwiste dokumente, waaronder die berugte gekodeerde Franse faks, deur die hof as bewysstukke aanvaar moet word.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Hy het gister ongemaklik gelyk in die hof en 'n houertjie bruistablette het voor hom op die bank gestaan.
Volgens Van Zyl het Shaik se dokter aanbeveel dat hy vandag ook in die bed moet bly. Regter Hilary Squires het egter gevra dat Shaik se toestand gisteraand gemonitor word om vas te stel of die hofverrigtinge vanoggend kan voortgaan.
Downer het gister die grootste deel van sy betoog gewy aan die Skerpioene se beslaglegging op dokumente in die wapenfirma Thomson-CSF (Thales) se Mauritius-kantoor.
Die verdediging staan die inhandiging van hierdie dokumente, waaronder mnr. Alain Thétard van Thomson se dagboek en 'n diensverskaffingooreenkoms met Shaik se Nkobi-groep, teen.
"Die bevel wat ons verkry het, was 'n behoorlike bevel. Die beslaglegging van dokumente was 'n behoorlike beslaglegging. Die enigste vraag is of ons afdrukke van die dokumente mag geneem het," het Downer gesê. Hulle het glo afdrukke van owerhede in Mauritius gekry en kan die Skerpioene nie daarvoor geblameer word nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.