Publication: Beeld Issued: Date: 2005-03-09 Reporter: Adriaan Basson

Shaik Weier om te sê Hoeveel Zuma Skuld

 

Publication 

Beeld

Date

2005-03-09

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Schabir Shaik weier om aan die hof te wys hoeveel geld adj.pres. Jacob Zuma hom nou skuld.

Shaik het Woensdag op die laaste dag van sy kruisondervraging deur adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, gesê hy het raad gekry om nié 'n bygewerkte skedule van sy betalings aan Zuma aan die hof te wys nie.

Downer het vroeër gevra dat Shaik dit na die hof bring nadat hy onthul het hy doen steeds betalings aan en namens Zuma.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Downer het Woensdag sy kruisondervraging van Shaik afgesluit deur dit aan hom te stel dat sy verweer op al drie aanklagte teen hom onwaar is.

Hy het ook die name van 'n rits staatsgetuies en wat hulle getuig het, voorgelees en gesê: "Dít is korrek. Jou weergawe is dus onwaar."

Oor die eerste korrupsieklag teen Shaik - dat hy R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gedoen het om sy invloed te "koop" - het Downer gesê dit is duidelik dat Shaik die Korrupsiewet van 1992 oortree het omdat hy geweet het daar is 'n verband tussen die betalings aan Zuma en die adjunkpresident se "hulp" aan Shaik.

Oor die bedrogklag het Downer gesê die Nkobi-groep se ouditeur en voormalige rekenmeester is reg dat hý (Shaik) opdrag gegee het vir die afskryf van sy leningsrekenings ter waarde van R1,2 miljoen.

Oor die tweede korrupsieklag het Downer dit aan Shaik gestel dat die inhoud van die gekodeerde Franse faks waar is en dat hy, Zuma en mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF (Thales), op 11 Maart 2000 in Durban vergader het om omkoopgeld vir Zuma te bespreek. Shaik se verweer van 'n skenking "kan nie korrek wees nie".

Shaik het in sy hoofgetuienis erken dat hy, Zuma en Thétard op 10 Maart 2000 in Durban vergader het om glo 'n skenking vir die Jacob Zuma Education Trust te bespreek.

Dagboekinskrywings van Thétard en Shaik is egter vir die staat genoeg rede om aan te voer dat die vergadering op 11 Maart 2000 was.

Zuma het op 11 Februarie 2003 in die parlement ontken dat hy op 11 Maart 2000 vir Thétard "in Durban of op enige ander plek in Suid-Afrika vergader het".

Dit het aan die lig gekom dat mnr. Pierre Moynot, Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF (Thint), gou vir die verdediging sal getuig.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.