Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-11 Reporter: Adriaan Basson Reporter: Dries Liebenberg Reporter: Jan-Jan Joubert

Verhoor op TV 'Nes Skandpaal'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-11

Reporter

Adriaan Basson, Dries Liebenberg,
Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Suid-Afrikaners sal Dinsdagmiddag weet of die Schabir Shaik-verhoor 'n regstreekse televisietreffer soos die Hefer-kommissie se "Mac Mo show" gaan word.

Maar eers sal regter Hillary Squires en twee assessors sterk bewoorde besware van sowel die staat as die verdediging moet verreken.

Sommige staatsgetuies sê hulle sal weier om te getuig voor die alsiende televisie-oog, Shaik se advokaat beweer 'n televisieverhoor is die moderne weergawe van die "barbaarse" skandpaal en mnr. Sipho Ngwema van die Skerpioene meen die regsproses kan sodoende gesaboteer word.

Squires het Maandag uitspraak voorbehou in e.tv se aansoek om die verhoor, wat allerweë as een van die belangrikstes in Suid-Afrika beskou word, regstreeks uit te saai.

Hy sal na verwagting Dinsdag omstreeks 14:15 sê of adv. Gilbert Marcus, SC, namens e.tv, se aansoek suksesvol is.

In hoofsaak moet hy die publiek se toegang tot 'n hofsaak van openbare belang opweeg teen die gevolge as die inligting waaroor getuies beskik, nie tot die hof se beskikking kom nie.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog, waarby Zuma betrek word.

Maandagoggend se verrigtinge is begin deur adv. Billy Downer, SC, namens die staat, wat alle aanklagte teen die wapenmaatskappy Thint teruggetrek het. Die res van die beskuldigdes is Shaik en sy ondernemings.

e.tv se aansoek is 'n knou toegedien toe adv. Guido Penzhorn, SC, namens die staat, gesê het sekere staatsgetuies sal weier om teen Shaik te getuig as die verhoor uitgesaai word.

Volgens Penzhorn is dit sonder televisiekameras reeds vir enige getuie " 'n angsbevange en intimiderende ervaring" om in 'n strafregtelike verhoor te getuig.

"Baie staatsgetuies is reeds onwillig om te getuig. Dit (die regstreekse uitsending) sal getuies verder intimideer."

Volgens Marcus is e.tv se aansoek gebaseer op 'n bepaling in art. 152 van die Strafproseswet wat lui dat verhore in 'n "oop hof" moet plaasvind. Volgens Marcus moet Squires 'n "beleidsbesluit" neem wat "genuanseerd en subtiel" is.

Adv. Nirmal Singh, SC, namens Shaik, het TV-uitsendings van strafregtelike verhore as die moderne weergawe van die skandpaal bestempel.

As beelde van getuies se oomblik van swakheid oor en oor op televisie herhaal word, is dit volgens Singh soortgelyk aan die Middeleeuse straf om mense aan 'n skandpaal vas te bind om hulle in die openbaar te verneder.

Singh het die TV-beeld van Hansie Cronjé wat in trane uitbars voor die King-kommissie, wat wedstrydknoeiery in krieket ondersoek het, as voorbeeld gebruik.

Volgens hom is dit 'n voorbeeld van hoe televisie - veral geredigeerde TV-programme - die werklikheid kan verwring.

Naas die reg op spraakvryheid waarop joernaliste staatmaak, het getuies ook 'n reg op privaatheid, het Singh aangevoer. Hy en Penzhorn het betoog dat die uitsending van die Shaik-verhoor die regverdigheid daarvan kan belemmer.

Die verhoor het volgens Penzhorn reeds 'n sterk politieke inslag. As TV-kameras in die hofsaal toegelaat word, sal dit 'n plofbare mengsel wees, het hy gesê.

Die eerste getuie in die Shaik-verhoor sal Woensdag geroep word.

Uitsaai-argumente

Kritiek: Televisiekameras gaan 'n negatiewe impak op getuies en prokureurs hê. e.tv: Kameras hoef nie altyd in die hof te wees nie. Die regter kan verfilming reguleer.

Kritiek: Die regstelsel kan deur selektiewe opnames misbruik word. e.tv: Die media kan deur redigering die regstelsel in elk geval misbruik. Dié risiko word verminder deur regstreekse uitsendings.

Kritiek: Toekomstige getuies kan beïnvloed word as hulle na die verhoor op TV kyk. e.tv: Sulke getuies kan ook in die koerante oor die hofverrigtinge lees. Dit is nie genoeg rede om kameras te verbied nie.

Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg, Jan-Jan Joubert en die Beeld.