Publication: Volksblad Issued: Date: 2004-10-19 Reporter: Dries Liebenberg Reporter: Adriaan Basson Reporter: Jan-Jan Joubert

Skok-Onthullings in Shaik-Verhoor

 

Publication 

Volksblad

Date 2004-10-19

Reporter

Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson,
Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Mnr. Schabir Shaik het glo vir adj.pres. Jacob Zuma gebel en sy ingryping gevra oomblikke nadat sy broer Chippy, destyds die weermag se hoof van wapenaankope, hom benoud oor die regering se wapentransaksie gebel het.

"Moenie bekommer nie," het Schabir Shaik sy broer oor die selfoon gerusgestel en toe dadelik vir Zuma gebel, het Shaik se voormalige assistent, mev. Bianca Singh, gister in die Durbanse hooggeregshof getuig.

"Hallo my broer, hallo JZ. Chippy is onder druk . . . ons het rêrig jou hulp nodig om hierdie transaksie te beklink," het Shaik glo aan Zuma gesê.

Volgens Singh het sy geweet hy verwys na die wapentransaksie omdat Chippy Shaik kort tevore gebel het en Schabir die woorde "projek" of "kontrak" gebruik het oor al sy ander sakebedrywighede. Haar getuienis het gister tot moedelose gesigte in die Shaik- kamp gelei nadat dit skynbaar op ongerymdhede dui met die toekenning van 'n deel van die regering se wapentransaksie aan een van Shaik se maatskappye. Daarbenewens word Zuma daarby betrek.

Hoewel Singh nie die presiese datum van die gesprek kon onthou nie, het dit volgens haar tussen Junie 1998 en Maart 1999 plaasgevind.

Tussen Mei en November 1998 het die Suid-Afrikaanse regering die aanbiedings vir sy wapenpakket oorweeg en op 18 November is daar aangekondig dat die tender van die Duitse fregatkonsortium, waarvan Thales deel is, voorkeur geniet vir die lewering van die vloot se korvette.

Dieselfde dag is 'n twispunt na bewering met Zuma se hulp uit die weggeruim wat Shaik se Nkobi- groep toegang tot die wapenkontrak gebied het.

Shaik staan tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog. Singh, 'n elegante, slank vrou wat ná 'n vlugtige ontmoeting deur Shaik aangestel is sonder dat sy enige kwalifikasie gehad het, is gedagvaar om teen haar voormalige werkgewer te getuig. Voor haar getuienis het sy die goue kruisie van Christus wat sy om haar nek dra, vasgeklem en stil gebid.

Maar toe sy met presiese en geartikuleerde woordkeuse op dreef kom, het sy die hof geskud met 'n vertelling van vreemde sakepraktyke, groot name en 'n eens hegte verhouding wat ná 'n omstrede voorval op die eiland Mauritius suur geraak het.

Onder strawwe kruisondervraging het sy vas gestaan by haar getuienis.

Dis die eerste keer dat Chippy Shaik regstreeks by getuienis betrek word. Mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, het hom in 2001 die verdedigingshoof kwartier verbied omdat hy inligting aan Schabir Shaik sou verskaf het.

Singh het voortgebou op die getuienis van prof. Themba Sono dat Shaik Zuma "en verskeie ander ministers" se name op vergaderings met potensiële sakevennote gebruik het.

Op 'n keer het Shaik glo - verwysend na sy sakemetodes - aan haar gesê: "Ek moet 'n botteltjie Vaseline by my dra, want ek word heeltyd deur hulle gen**i. Maar dis oraait, want ek kry wat ek wil hê en hulle kry wat hulle wil hê."

Aan Shaik en Zuma se nou verbintenis het sy geen twyfel nie: Hulle het glo gereeld saam geëet, tussen Durban en Kaapstad gereis om mekaar te sien en op die telefoon gepraat - voor en nadat Zuma adjunkpresident geword het.

Die Nkobi-groep het glo ook vir Zuma se woonstel aan die Durbanse strandfront betaal en een dag moes sy selfs vir hom R700 kontant in 'n koevert na die Durbanse lughawe neem, het Singh getuig.

Haar ontnugtering met Shaik het gekom tydens 'n besoek aan die wapenmaatskappy Thales se kantore in Mauritius.

Op 'n vergadering met onder andere mnr. Alain Thétard, Thales (Thint) se Suider-Afrikaanse hoof, het Shaik glo 'n lêer met koerantberigte oor die wapentransaksie voorgelê.

"As die Heath-ondersoekeenheid voortgaan, is daar moeilikheid en as 'n sekere ANC-amptenaar sy mond oopmaak, gaan ek in groot moeilikheid wees," het Shaik glo gesê.

Volgens Singh is sy deur Shaik en die Thales-mans gevra om die vergadering te verlaat.

Later die aand was daar na bewering 'n "voorval van persoonlike aard" tussen haar en Shaik in sy hotelkamer.

Singh het geen klagte teen hom ingedien nie, maar kort daarna by Nkobi bedank.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Volksblad.