Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-23 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

Nkobi-Leningsrekening Glo 'Skoongemaak'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-23

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Nkobi-direkteurs het nie vet leningsrekenings van honderdduisende rande nie.

Die boekhouers moes 'n fout gemaak het. Met dié verduideliking het mnr. Schabir Shaik glo die vennote van sy ouditeursfirma in 1999 opdrag gegee om sy leningsrekening te konsolideer en "skoon te maak".

Só het mnr. Ahmed Paruk, 'n vennoot van die ouditeursfirma David Strachan & Tayler, Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof getuig.

Dit is die eerste getuienis wat Shaik glo regstreeks verbind met die afskryf van R1,282 miljoen as ontwikkelingskoste vir 'n rybewyskontrak.

Shaik, finansiële raadgewer van adj.pres. Jacob Zuma, staan in verband hiermee onder meer tereg op aanklag van bedrog.

Die staat beweer in die proses is meer as R290 000 se betalings ten bate van Zuma wat deel vorm van 'n korrupsieklag, ook uit die Nkobi-boeke gewis.

Paruk het getuig Shaik het einde November 1999 op 'n vergadering aan hom en nog 'n vennoot, mnr. Paul Gering, verduidelik die R1,282 miljoen moes uitgawes vir kontrakte gewees het wat Nkobi-boekhouers verkeerdelik as lenings aangeteken het.

Shaik se persoonlike leningsrekening het voor konsolidasie sowat R508 000 beloop.

"Ek glo nie dit kan persoonlike lenings wees nie.

"Die Nkobi-groep is nie veronderstel om sulke vet leningsrekenings te hê nie.

"Dit moet uitgawes wees wat verkeerd aangeteken is," het Shaik volgens Paruk gesê.

Shaik het glo gesê die groep het verskillende tenderkontrakte gekry, waaronder die een om kaartrybewyse vir die departement van vervoer te maak.

In dié konteks het Paruk en Gering besluit om die lenings as ontwikkelingskoste vir Prodiba (die kaartrybewys-projek) af te skryf, het die ouditeur getuig. "Ons het Shaik se verduideliking aanvaar."

Shaik voer aan die ouditeurs se inskrywing was 'n "fundamentele fout", wat in 2002 reggestel is. Die hof het egter vroeër getuienis aangehoor dat dít eers gedoen is nadat die Skerpioene se bedrogondersoek tydens die ondervraging van Nkobi se finansiële direkteur bekend geword het.

Adv. François van Zyl, SC, het Maandag namens Shaik aangevoer dat hy eers middel Desember 1999 met die bedanking van mev. Celia Bester, die groep se boekhouer, kennis geneem van die inskrywings wat onder meer die R1,282 miljoen afgeskryf het.

Shaik het hom op sy boekhouers en ouditeurs verlaat dat die veranderings aan finansiële jaarstate korrek was, het Van Zyl ook aangevoer.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.