Shaik, Zuma en die Skotse Prof |
Publication | Rapport |
Date | 2004-11-27 |
Reporter |
Adri Kotze |
Web Link |
Donderdagoggend het die oudspioen mnr. Mo Shaik ná 'n afwesigheid weer by die verhoor van sy broer, mnr. Schabir Shaik, opgedaag. Hy het gespanne, selfs strydlustig voorgekom en het gekla oor wat hy genoem het "die verhoor deur die media" waaraan hy meen sy broer en adj.pres. Jacob Zuma onderwerp word.
En ná die getuienis van die Skotse akademikus prof. John Lennon was Mo, wat om die beurt sê hy woon die verhoor by om sy broer te ondersteun en om na die belange van die adjunkpresident om te sien, oënskynlik in 'n bitter slegte bui.
Die staat se regspan het, daarenteen, opgewek gelyk. Lennon word as 'n sleutelgetuie beskou om die staat se bewering te staaf dat daar 'n korrupte verhouding tussen Shaik en Zuma was en dat Zuma sy politieke invloed gebruik het om Shaik se sakebelange te bevorder.
Shaik ontken skuld op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
Lennon word gereken as een van die voorste toerismekenners in Brittanje en beklee die Moffat-leerstoel in die sakeontwikkeling van reis en toerisme aan die Glasgow Caledonian-universiteit.
In sy getuienis van net meer as drie uur het die staat 'n reeks dokumente ingelewer waarop beslag gelê is by Lennon se kantoor en in die kantore van Shaik se Nkobi-groep. Dít sluit in korrespondensie tussen verteenwoordigers van die Nkobi-groep, Lennon en Zuma.
Volgens Lennon was hy in 1998 deel van 'n Britse handelsafvaardiging na Suid-Afrika. Hy wou onder meer 'n ekotoerismeskool in KwaZulu-Natal stig en het reeds twee plaaslike vennote in Suid-Afrika, die Environmental Design Partnership in Sandton en Lorimer Environmental Consultants, gehad.
Lennon het beweer hy het Shaik by 'n toerismeslypskool in Johannesburg ontmoet en daar sy visitekaartjie en 'n brosjure van Nkobi Holdings gekry. In dié gesprek, het Lennon gesê, was "Jacob Zuma 'n sleutelfiguur". Zuma was LUR vir finansies en toerisme in KwaZulu-Natal.
"Hy was op streekvlak heel belangrik en dit sou nogal noodsaaklik wees om sy steun te kry."
Later het Lennon glo saam met 'n verteenwoordiger van die Environmental Design Partnership 'n vergadering met Zuma bygewoon in dié se kantoor in Durban.
"Hy (Zuma) was baie gretig, baie entoesiasties. Ek het gesê dit sal my saak help as ek 'n ondersteuningsbrief kry."
Volgens Lennon het Zuma aangedui hy sou só 'n brief vir die projek gee, maar Lennon het teruggekeer na Skotland en " 'n lang tyd" gewag op 'n brief. Hy het glo met mnr. Deva Ponnoosami, 'n Nkobi-verteenwoordiger in Londen, daaroor gekorrespondeer.
Later het Lennon self 'n konsepbrief geskryf. Hy vermoed hy het dit aan Ponnoosami as tussenganger gestuur.
Lennon het wel daarop 'n brief, onderteken deur Zuma en op sy amptelike briefhoof, gekry. Daarin is van Lennon se oorspronklike bewoording in sy konsepbrief gebruik. Bykomend het dit egter 'n verwysing na die Nkobi-groep gehad.
"Ek meen 'n plaaslike vennoot is nodig om 'n gesamentlike onderneming met jou te skep om hierdie inisiatief te verwesenlik en om te help om die plaaslike behoeftes te verstaan," lui Zuma se brief.
"Ek het gesprekke met een so 'n maatskappy, naamlik Nkobi Holdings met sy hoofkantoor in Durban, gehad. Hulle is gretig om deel te wees van die onderneming aangesien dit in ooreenstemming is met hul eie planne in die ontspanningsbedryf. Ek het aan hulle voorgestel dat hulle regstreeks met jou in verbinding tree om die proses te bespoedig en hopelik kan julle saam die KwaZulu-Natalse toerismebedryf verbeter deur die werkers in die bedryf se profiel en kundigheid te verhoog."
Lennon het getuig hy het dit "interessant" gevind, maar voortydig omdat hy nog nie in 'n stadium was waar hy 'n plaaslike vennoot nodig gehad het nie. 'n Voorlopige volhoubaarheidstudie moes nog gedoen word. Boonop het hy reeds met plaaslike vennote gewerk.
Dié brief is gefaks van die kantore van Nkobi Holdings. "Dit was vreemd dat die minister se brief nie van sy kantoor gekom het nie, maar van Nkobi Holdings," het Lennon gesê. Op dieselfde dag het Lennon 'n faks gekry van mnr. Martyn Surnam van die Nkobi-groep. "Ek is deur mnr. Schabir Shaik, uitvoerende voorsitter en hoofbeampte, gevra om te bevestig dat ons maatskappy belang stel om deel te neem as jou vennoot in die gesamentlike onderneming en dat hy dit sal waardeer as jy hom self kontak sodat julle kan praat oor hoe Nkobi Holdings 'n positiewe bydrae tot hierdie inisiatief kan lewer."
Dié brief van Surnam is ook aan Zuma en Shaik gestuur.
Hierop het Lennon getuig dit was " 'n besige dag" op die faksmasjien. "Ons het 'n lang vertraging gehad en skielik het hulle hard en vinnig deurgekom."
Op dieselfde dag het Zuma ook 'n brief van ondersteuning vir Lennon se projek aan die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsbank gestuur waarin hy die hoop uitspreek dat die finansiering daarvan bespoedig sal word.
Lennon het in reaksie vyf dae later 'n brief gestuur aan Shaik, waarin hy aangedui het hy is gretig om die projek en hul moontlike samewerking te bespreek. Maar, het hy gesê, sy plaaslike agent is mnr. Rupert Lorimer van Lorimer Environmental Consultants en dat Lorimer met hom in verbinding sal tree.
Dié brief het 'n woedende reaksie van Shaik ontlok. Surnam het teruggeskryf aan Lennon en gesê hy is deur Shaik gevra om te reageer.
"Ek moet jou meedeel dat hy jou reaksie, om die minste te sê, beledigend vind en hy meen dit ontbreek aan die sake-etiek wat dit verdien," het Surnam geskryf.
"Nadat hy die ondersteuningsbriewe vir jou gekry het, bevind hy hom nou in 'n posisie waar hy op die kantlyn gestoot word en met jou sogenaamde agente in Suid-Afrika, naamlik Lorimer Environmental Consultants, moet werk. Hy vra waarom Lorimer Environmental Consultants jou nie in die eerste plek kon gehelp het nie."
Luidens die brief het Shaik Lennon drie dae tyd gegun om terug te kom na hom toe met inligting oor onder meer 'n sakeplan en voorstelle oor die toedeling van hul werkverdeling. Anders sou hy "teruggaan na mnr. Zuma".
Lennon het gesê hy het die brief gë?gnoreer. Volgens hom het dit aangedui Shaik het 'n mate van invloed op Zuma en dat as hy nie doen soos wat hy aangesê is nie Zuma moontlik sy steun sou onttrek.
"Dit was ongewoon en rampspoedig en tragies onvergeeflik omdat dit 'n projek sou stop wat die moeite werd was en nuttig kon wees in die ontwikkelingskonteks."
In 'n latere brief het Shaik aan Ponnoosami geskryf dat as hy nie die inligting kry wat hy vroeër gevra het nie, hy (Shaik) vir Zuma daaroor sal inlig en probeer om "al die nodige te doen om prof. Lennon se proses te stop". Die projek het nooit op die been gekom nie.
Met erkenning aan Adri Kotzé en die Rapport.