Shaik Skud Kop Oor Getuienis |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-26 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Mnr. Schabir Shaik het Dinsdagmiddag kopskuddend getuienis oor die boekhouding van een van sy maatskappye aangehoor en met 'n nota aan sy advokaat getuienis deur 'n forensiese ouditeur vir 'n wyle onderbreek.
Benewens die aanklag dat hy adj.pres. Jacob Zuma omgekoop het, staan dié direkteur van die Nkobi-groep ook tereg op klagte van bedrog en vals boekhouding.
Mnr. Johan van der Walt van KMPG het Dinsdagmiddag getuig hoe 'n bate van R3,5 miljoen in die Nkobi-boeke geskep is op grond van verwagte inkomste uit toekomstige werk in die kaartrybewys-projek, waarin die groep 'n vennoot is.
Op grond hiervan het Kobifin 'n lening aan een van die ander maatskappye in die groep, Kobitech, toegestaan wat uiteindelik op die boeke van sy sustermaatskappy Kobi-IT weerspieël is, het Van der Walt getuig.
Ondanks 'n opdrag van die ouditeurs dat prokureurs 'n leningsooreenkoms vir dié R3,5 miljoen opstel, kon dit nie tydens KPMG se forensiese oudit opgespoor word nie, het Van der Walt getuig.
Shaik, wat vroeër met sy bril se arm in die mond aandagtig geluister het, het notas van die getuienis gemaak en dikwels kopieë van die staat se bewysstukke aan sy broer Moe gegee om na te kyk.
Adv. François van Zyl (SC) het regter Hilary Squires om geleentheid gevra om met sy kliënt te konsulteer. Ná 'n kort gesprek het Van Zyl na Squires gedraai en gesê die kwessie is uitgepluis.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.