Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-29 Reporter: Adriaan Basson

Zuma Kon Nie Sy Skuld Delg - Hof

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-29

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Die rente wat adj. pres. Jacob Zuma maandeliks op sy skuld behoort af te betaal "is in die omgewing van sy salaris".

Só het mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, gister getuig in die verhoor van mnr. Schabir Shaik.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Van der Walt het gister bykans klaargemaak met die voorlees van 'n forensiese verslag van 250 bladsye wat KPMG in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) saamgestel het.

Zuma se geldsake het ter sprake gekom weens betalings van ongeveer R1,2 miljoen wat deur Shaik se Nkobi-groep aan Zuma gemaak is.

Die staat beweer Shaik het Zuma omgekoop om die Nkobi-groep se sakebelange te bevorder, terwyl Shaik se verweer is dat hy bloot in sy hoedanigheid as Zuma se finansiële adviseur opgetree het.

Van der Walt het gister beklemtoon wat hy vroeër gesê het, dat Zuma se regeringsalaris nie genoeg was om sy lewenstyl te onderhou nie.

Die verslag skets 'n prentjie van 'n man wie se bankbalans in 1995 nog 'n batige saldo gehad het en wat in Julie 1996 'n netto-salaris van ongeveer R20 000 per maand verdien het, maar tans staatmaak op lenings of oortrokke geriewe om te oorleef.

KPMG het betalings aan en van Zuma tussen Julie 1996 en Desember 2003 bekyk.

In hierdie tydperk het sy totale inkomste R3 864 865,73 beloop en sy totale uitgawes R4 294 639,58.

Hierdie bedrae sluit die altesame R1 269 836,41 uit wat deur Shaik en/ of maatskappye in die Nkobi-groep in hierdie tydperk aan Zuma se uitgawes bestee is.

Die verslag meld twee skulderkennings van onderskeidelik R200 000 en R140 000 aan Shaik wat Zuma onderteken het.

Al betalings van Zuma aan Shaik wat KPMG egter kon identifiseer, was twee bedrae van R10 000 elk in 1998 en 1999.

Luidens die verslag het Zuma se finansiële probleme in 1995 begin met 'n brief van sy bankbestuurder oor agterstallige betalings op 'n huisverband.

'n "Algemene patroon" van slegte skuld het gevolg tot op 'n punt waar Zuma nie meer sy skuld met sy salaris kon delg nie.

Een só voorbeeld is 'n Mercedes-Benz E320 wat Zuma in 1997 deur Eerste Nasionale Bank gekoop het. Daar was nie genoeg geld in die adjunkpresident se rekening om sy eerste paaiement van R8 024,85 te betaal nie.

Die betalings is later deur Kobitech, 'n filiaal van Shaik se Nkobi Holdings, oorgeneem.

By 'n ander geleentheid was Zuma glo in 1999 in 'n motorongeluk in Rosebank, Johannesburg, met sy Mercedes betrokke. Shaik het die koste van die herstelwerk van R20 520 betaal.

Volgens Van der Walt is dit "duidelik" dat Zuma nooit die geld gehad het vir die skuld wat hy aangegaan het nie. "Die ander moontlikheid is natuurlik dat hy die skuld aangegaan het omdat hy geweet het 'n ander party gaan dit vereffen."

As "ander party" het hy na Shaik en/of die Nkobi-groep verwys.

Nadat Shaik "homself" as Zuma se finansiële adviseur gevestig het, het hy (Shaik) glo met die finansiële instellings wat Zuma geld geskuld het, gekommunikeer. Dit het sake egter nie verbeter nie en die Nkobi-groep moes pa staan vir sy skuld.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.