Bestaan van Sleutel-Dokument in Shaik-Verhoor Bevestig |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-26 |
Reporter |
Dries Liebenberg, Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Die bestaan van 'n sleuteldokument - 'n getikte Franse faks - is Vrydag deur 'n rekenaardeskundige in die Durbanse hooggeregshof bevestig.
Dié faks is die staat se belangrikste getuienis om te probeer bewys mnr. Schabir Shaik het gereël dat adj.pres. Jacob Zuma omkoopgeld ontvang.
Mnr. Bennie Labuschagne van die firma Computer Security and Forensic Solutions het Vrydag in die Shaik-verhoor getuig hy het bevind me. Sue Delique, 'n voormalige sekretaresse in die wapenmaatskappy Thomson- CSF (Thint), het die faks op 17 Maart 2000 getik en op 'n rekenaarskyfie geberg.
Delique het vroeër getuig mnr. Alain Thétard, Thint se voormalige direkteur in Suid-Afrika, het 'n handgeskrewe nota aan haar gegee om te tik en na mnr. Yann de Jomaron, die Thomson-groep se hoof van verkope in Afrika, en mnr. Jean-Paul Perrier, 'n direkteur van die moedermaatskappy, te faks.
Die dokument, getiteld "JZ.doc", is in September vanjaar deur Delique op 'n rekenaarskyfie ontdek wat sy glo saam met haar gevat het ná 'n rusie tussen haar en Thétard wat tot haar bedanking gelei het.
Voordat sy die getikte weergawe gevind het, moes die staat op die handgeskrewe nota staatmaak. Thétard het reeds erken hy is die outeur van die handgeskrewe weergawe, maar het later gesê dié nota is na sy wete nooit getik en gefaks nie.
Shaik staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Die staat beskou die faks, wat getik is ná 'n beweerde vergadering tussen Shaik, Zuma en Thétard op 11 Maart 2000 in Durban, as bewys dat Shaik betrokke was by die "omkopery" van Zuma teen R500 000 per jaar in ruil vir die ondersteuning van Thomson- CSF en die beskerming van die maatskappy teen 'n wapenondersoek.
Adv. François van Zyl, namens Shaik, het gesê hy gaan die toelaatbaarheid van die dokumente teenstaan.
Met erkenning aan Dries Liebenberg, Adriaan Basson en die Beeld.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.