Regter Sleutelfiguur in Zim |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-12 |
Reporter |
Waldimar Pelser |
Web Link |
Regter Hilary Squires was 'n sleutelfiguur in die regime van mnr. Ian Smith voordat Rhodesië in 1980 Zimbabwe geword en mnr. Robert Mugabe as president oorgeneem het.
Hieroor swyg sy curriculum vitae, wat voor die begin van die Shaik-verhoor aan die plaaslike media beskikbaar gestel is.
Squires het onder meer as minister van justisie en mede-minister van verdediging diens gedoen.
Dié posisies is op aandrang van Smith vir wittes gereserveer.
Terwyl regskollegas van Squires Dinsdag uit Harare, Zimbabwe, aan Beeld gesê het hy was 'n gerespekteerde regter en 'n noukeurige man met integriteit, het party voorbehoud uitgespreek oor sy rol as politikus voordat hy in 1979 regter in die hooggeregshof geword het.
In sy boek Under the skin: The death of white Rhodesia (Penguin, 1983), beskryf David Caute grepe uit Squires se politieke loopbaan.
Squires het Smith in 1976 na Genève in Switserland vergesel vir mislukte onderhandelings oor magsdeling met Mugabe.
In die sewe weke wat dié konferensie duur, sterf 321 "terroriste" aan die hand van die Smith-regering, teenoor 305 tydens die hele 1975.
Toe Smith in 1978 toegee dat swart én wit eindelik stemreg sal hê, was dit volgens Caute op die voorwaarde dat wittes beheer behou oor sleutelposte in die regering, waaronder justisie, 'n posisie wat Squires in 1978 beklee het.
Toe 'n swart LP Squires vra hoeveel wit en swart Rhodesiërs sedert 1965 ter dood veroordeel en tereggestel is, het Squires sy vrae volgens Caute as "ondeund en uitlokkend" beskryf.
Die Smith-regering het glo in April 1975 besluit om teregstellings in die geheim uit te voer en naasbestaandes slegs in kennis te stel as hulle navraag doen.
Caute beweer ook dat Squires in 1979 ouers in sy voornemende kiesafdeling Borrowdale, 'n noordelike voorstad van Harare, aangeraai het om vir 'n skole-bestel te stem wat ouers in staat sou stel om groter beheer oor toelatingsbeleid uit te oefen.
Squires het glo 'n beroep gedoen op die ouers se "gedeelde waardes" en gewaarsku teen die toelating van swart leerlinge.
Mnr. Byron Venturas, wat 55 jaar in Harare as prokureur praktiseer en gereeld saam met Squires gewerk het, het Beeld vertel Squires is 'n "hiper-noukeurige regsman" wat "geen kanse waag nie".
Nóg 'n prokureur, mnr. Tim Tanser, het onder Squires gewerk en hom as 'n "baie gerespekteerde, maar streng regter" beskryf.
Hoewel hy in 'n laat stadium by die Smith-kabinet aangesluit het, is dié stap in sommige kringe as 'n teken van steun vir Smith vertolk.
Met erkenning aan Waldimar Pelser en die Beeld.