Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-05 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

Só Doen Mens Hier Sake, Glo Thomson

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-09

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Daar was nie ongerymdhede met die aankoop van vier korvette vir die Suid-Afrikaanse vloot nie, het die hooggeregshof Dinsdag hier in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik gehoor.

Dít het egter nie robuuste steunwerwery tydens die tenderproses vir Suid-Afrika se wapenpakket uitgesluit nie.

Die Franse verdedigingsmaatskappy Thomson-CSF is sedert die vroeë jare negentig juis onder die indruk gebring dat hy hom tot informele beïnvloeding moet wend om sake in Suid-Afrika te doen, het die staat Dinsdag aangevoer.

En dit is hiér - in 'n geskil tussen Shaik se Nkobi- groep en Thomson, met wie hy in 'n vennootskap getree het - waar adj.pres. Jacob Zuma op die toneel verskyn in die wapensage.

Die staat beweer dat Shaik enersyds tussen 1995 en 2002 vir of namens Zuma sowat R1,2 miljoen betaal het om die private belange van sy Nkobi-groep te bevorder. Andersyds het Shaik en die Thomson-groep na bewering vir Zuma in 2000 omgekoop om die Franse maatskappy in die wapenondersoek te beskerm.

Adv. Francois van Zyl, SC, namens Shaik, het Dinsdag bewysstukke aan die hof voorgelê waarvolgens die evaluering van die korvet-tenders in geen stadium van die proses verander is nie.

African Defence Systems (ADS), waarby Thomson-CSF en die Nkobi-groep 'n belang het, het die kontrak gekry om die korvette se wapenstelsels te verskaf.

Volgens mnr. Johan van der Walt van KMPG lyk dit in baie gevalle op die oog af asof daar aan die formele tenderproses voldoen is wanneer tenderaars hulle tot 'n proses agter die skerms wend.

Dit is nie net daarop gemik om die tenderproses te beïnvloed nie, maar ook om die regte ding op die regte tyd te sê of in die regte rigting gestuur te word met jou tender.

Sulke informele prosesse is nie algemeen in Suid-Afrika nie, maar gebeur volgens Van der Walt wel.

Adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer, het gesê sonder die agtergrond van Thomson se talle gesprekke met Suid-Afrikaanse politici en senior amptenare sal skielike getuienis oor 'n beweerde komplot tussen hulle en Shaik vreemd opval.

"Hierdie agtergrond help die staat om te bewys dat Zuma deel was van 'n informele proses.

"Dit pas ook in by die scenario waarin Thomson hulself ingewikkel het," het Downer gesê.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.