Skerpioene se Werkers Loop 'Weens Spanning' |
Publication | Die Burger |
Date |
2005-01-31 |
Web Link |
Kaapstad - Te midde van voortgesette onsekerheid oor die voortbestaan van die Skerpioene het aan die lig gekom dat 'n uittog van personeel by dié elite-ondersoekeenheid plaasvind.
Dit is bekend dat daar sluimerende spanning is tussen die Skerpioene, wat onder die nasionale vervolgingsgesag (NVG) val, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
In regeringskringe is daar ook reeds geruime tyd vrae oor onder wie se gesag die Skerpioene moet val, en of die eenheid by die SAPD ingelyf moet word.
Sprake dat die Skerpioene onder die gesag van die polisie gebring kan word, het aanleiding gegee tot vrae in politieke kringe of só 'n skuif te make kan hê met die uitoefening van politieke druk op 'n eenheid wat betrokke is by sensitiewe kwessies soos die Shaik-bedrogsaak en die parlementêre reisskandaal.
Die uittog van personeel by die Skerpioene het opnuut die kollig op dié kwessies laat val, maar die NVG het wal gegooi teen sprake dat sy personeel loop weens politieke druk.
"Die NVG is nie uniek nie. By enige organisasie is daar mense wat groener weivelde soek."
Só het mnr. Makhosini Nkosi, woordvoerder van die NVG, Vrydag gesê ná berigte dat 'n uittog van senior NVG-amptenare plaasvind.
Onder die amptenare wat die NVG binnekort verlaat of reeds verlaat het, is mnr. Sipho Ngwema, kommunikasiehoof van die NVG, adv. Ben Avenant, aanklaer in die parlementêre reiskoeponsaak, en adv. Rudolf Mastenbroek, wat onder meer betrokke was by die korrupsie-ondersoek van mnr. Ngoako Ramatlhodi, voormalige premier van Limpopo.
Volgens Nkosi werk daar meer as 3 000 mense vir die NVG en is dit nie ongewoon vir mense in só groot organisasie om van werk te verander nie.
Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat van die bedankings verband hou met adv. Bulelani Ngcuka, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, se bedanking verlede jaar.
Nkosi het heftig ontken dat die bedankings die werk van ondersoekeenhede soos die Skerpioene belemmer.
Op die vraag of Avenant die reiskoeponsaak gaan voltooi voor hy na die forensiese afdeling van Deloitte skuif, het Nkosi gesê hy weet nie, "maar geen saak in die NVG word net deur een individu hanteer nie".
"Ondersoeke word deur spanne gedoen. As een lid die NVG verlaat, is daar ander om met die werk voort te gaan.
"Die bedankings veroorsaak geen ontwrigtings van ondersoeke nie. Dit is byvoorbeeld onmoontlik vir een persoon om aan die reiskoeponsaak te werk," het Nkosi gesê.
Volgens hom is 'n "weermag van prokureurs" daarmee besig.
Mastenbroek, wat ook betrokke was by die korrupsie- en bedrogondersoek van me. Felicia Oppelt, eggenoot van adv. Cornwell Tshavhungwa, is onlangs aangestel as redakteur van die Daily Dispatch.
Tshavhungwa, 'n geskorste Gautengse adjunkdirekteur van openbare vervolging, word daarvan aangekla dat hy korrupsie en bedrog gepleeg het met sy ondersoeke na die Mpumalanga Economic Empowerment Corporation (MEEC).
Volgens Nkosi weet hy nie wat Ngwema, wat reeds sewe jaar die NVG se woordvoerder is, se "groener weiveld" is nie.
Ander bedankings sluit in dié van mnr. Wayne Malgas, 'n senior ondersoeker van die Skerpioene, me. Elize Roos, bestuurder van menslike hulpbronne en mnr. Ruben Richards, die Skerpioene se hoof van opleiding.
Die DA het Vrydag in 'n verklaring sy kommer uitgespreek oor die vlaag van bedankings en 'n beroep gedoen op die president en die minister van justisie om NVG-werknemers oor die organisasie se toekoms gerus te stel.
Met erkenning aan Die Burger.