Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-06 Reporter: Willem Jordaan

Die Adjunkpresident is Weer in die Spervuur

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-06

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Die dood van die enigmatiese Russiese monnik Grigori Raspoetin is 'n verhaal waaromheen vele legendes vertel word.

Nadat sy invloed te wyd begin strek het na die sin van sy vyande onder die Russiese adel, was daar volgens oorlewering talle aanslae op sy lewe en het hy glo vergiftiging, koeëlwonde en 'n mesaanval oorleef voordat hy uiteindelik in die ysige Neva-rivier verdrink is.

Soos 'n wafferse Raspoetin het adj.pres. Jacob Zuma se politieke loopbaan tot dusver die kartetse deurstaan wat in sy rigting gemik is.

Eers was daar die bewering dat daar 'n prima facie-saak van korrupsie teen hom bestaan. Dié bewering van adv. Bulelani Ngcuka, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, het oënskynlik nie binne die ANC die verwagte politieke tol geëis nie.

Die ANC (pres. Thabo Mbeki inkluis) het tot dusver voet by stuk gehou dat daar geen rede vir Zuma is om te bedank nie: Hy word onskuldig gereken tot tyd en wyl hy skuldig bewys is.

Verder het die Hefer-kommissie Zuma versoek om te getuig oor die spioenasiebewerings teen Ngcuka, maar uiteindelik het hy dié versoek - en moontlik verdere politieke verleentheid wat daarmee gepaard kon gaan - vrygespring.

Van die bewerings dat Zuma "geskenke" van meer as R1 miljoen van sy vriend en finansiële raadgewer Schabir Shaik ontvang het en nie verklaar het nie, het tot dusver niks gekom nie. Trouens, adv. Lawrence Mushwana, openbare beskermer (OB), kon geen bewyse vind dat Zuma die belangekode vir kabinetslede oortree het nie.

Nadat verskeie bewerings oor lenings en betalings wat Zuma glo ontvang het na vore gekom het in die Skerpioene se klagstaat teen Shaik, het die DA gevra dat die OB dié en ander bewerings ondersoek om vas te stel of Zuma al sy belange en skuld in die belangeregister vir kabinetslede verklaar het.

Ofskoon die OB nie getuienis kon vind dat Zuma sy openbaarmakingsplig versuim het nie, is dit duidelik gestel dat verskeie van die betalings wat Zuma na bewering ontvang het, gedoen is voordat die kode van krag was.

En wat betref die bewerings wat in die klagstaat teen Shaik vervat is, het die OB gesê dié bewerings kan hy nie ondersoek nie omdat die saak teen Shaik nog sub judice is.

Só het die swaard van korrupsiebewerings bo Zuma se kop bly huiwer, en wanneer Shaik Maandag in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie, is Zuma saam in die spervuur.

Al is dit nie hy wat self in die beskuldigdebank staan nie, loop die naam van Jacob Zuma soos 'n goue draad deur die klagstaat teen sy vriend Shaik.

En al het die OB vroeër bevind Ngcuka het Zuma se grondwetlike regte geskend met die bewering dat daar prima facie-getuienis van korrupsie teen hom is, verander dit bloedweinig aan die feit dat Zuma 'n baie prominente figuur in die Skerpioene se klagstaat teen Shaik is.

Dit lui: "Opsommenderwys is daar in die algemeen 'n korrupte verhouding tussen Zuma en Beskuldigde 1 (Shaik) en/of die beskuldigde maatskappye, waarin die beskuldigdes Zuma betaal het om hul private sakebelange te bevorder in ruil vir die finansiering van Zuma se buitensporige uitgawes."

Die klagstaat bevat ook besonderhede oor 'n ooreenkoms wat na bewering sou behels dat Zuma sowat R1 miljoen omkoopgeld sou ontvang het in ruil daarvoor om 'n wapenmaatskappy teen vervolging te beskerm en dié maatskappy se belange regstreeks te bevorder.

Daarom word die vraag binne en buite die ANC gevra of die oomblik van die Neva-rivier dalk nou vir Zuma se politieke loopbaan kan aanbreek.

In die eerste plek bestaan daar 'n besliste moontlikheid dat daar in die Shaik-hofsaak nog getuienis teen Zuma kan opduik wat hom opnuut in die verleentheid kan stel.

Teen dié agtergrond moet 'n mens onthou dat die nasionale vervolgingsgesag tot dusver nie die moontlikheid uitgesluit het dat Zuma later vervolg kan word nie.

Tweedens gaan dit baie interessant wees om te sien of Zuma geroep word om te getuig oor wat in die klagstaat bestempel is as " 'n korrupte verhouding" met Shaik. Ofskoon daar in dié stadium nog geen aanduiding is dat die staat of Shaik se verdediging planne het om dit te doen nie, bestaan die moontlikheid ook dat die regter dit self kan doen.

As Zuma wel geroep word, sal dit nie 'n "vriendelike versoek" van 'n Hefer-kommissie wees wat jy sommer kan systap nie. As hy gedagvaar word, móét hy gaan getuig.

In dié geval sal dit straks die eerste keer wees dat Zuma verplig word om sy stilte te verbreek oor die inhoud van die bewerings teen hom en Shaik.

Só 'n verhoor is beslis nie goeie nuus vir 'n man met presidensiële ambisies nie . . .

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.