Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-27 Reporter: Dries Liebenberg

'Staak die Kommentaar'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-27

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Die kommentaar oor die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik uit die binnekring van die beskuldigde én deur die nasionale vervolgingsgesag (NV) moet end kry.

Só het regter Hilary Squires Woensdag in die Durbanse hooggeregshof gereageer op 'n klagte van adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer, oor kommentaar wat mnr. Moe Shaik, die beskuldigde se broer, in media-onderhoude gelewer het.

"Dit grens aan 'n mediaverhoor," het Squires gesê, wat aan die begin van die verhoor ook gewaarsku het dat dit Schabir Shaik en nie adj.pres. Jacob Zuma is nie wat in sy hof teregstaan.

Moe Shaik het tydens die verdaging vir middagete in 'n onderhoud kapsie gemaak teen die feit dat oudpres. Nelson Mandela "ongevraag" in getuienis betrek word.

Squires het volgens Sapa gesê hy wil transkripsies hê van alle onderhoude wat Moe Schaik aan die media gegee het.

Vroeër vandeesweek was daar getuienis dat die Franse maatskappy Thomson-CSF volgens aanduidings met Mandela en pres. Thabo Mbeki gesprek gevoer het voordat 'n kontrak vir die verskaffing van korvetwapenstelsels toegestaan is. Mandela en Mbeki was in daardie stadium onderskeidelik Suid-Afrika se president en adjunkpresident.

Thomson word betrek in bewerings dat hulle en Schabir Shaik Zuma omgekoop het.

Gister het mnr. Johan van der Walt van KMPG getuig oor hoe Mandela in 2000 R2 miljoen in Zuma se bankrekening inbetaal het. Shaik het van dié geld na die bankrekenings van sy eie maatskappye oorgeplaas.

Downer het kapsie gemaak daarteen dat Moe Shaik, "die beskuldigde se broer", kommentaar lewer op getuienis wat nog gelewer word.

Hy het gesê dit is nie die getuie wat Mandela betrek nie, maar die staat wat "getuienis relevant tot die aanklagte teen Schabir Shaik" lei.

Adv. François van Zyl, SC, vir die verdediging, het kapsie gemaak daarteen dat dit nie net Moe Shaik is wat kommentaar op TV en radio lewer nie, maar ook NV- woordvoerders.

Sowel die Shaik-familie as die NV het die afgelope drie weke van die verhoor woordvoerders ingespan om tydens verdagings onderhoude oor die verrigtings met radio- en TV-joernaliste te voer nadat 'n aansoek dat TV-kameras in die hof toegelaat word, misluk het.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.