Publication: Beeld Issued: Date: 2005-02-20 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Staat se Kant van Shaik-Skaal Weeg Swaar, sê Wiechers

 

Publication 

Beeld

Date

2005-02-20

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - "Die staat het sy dokumente op die skaal gelaai en dit weeg baie swaar."

Só sê prof. Marinus Wiechers, oudhoogleraar in die reg aan Unisa, in reaksie op regter Hilary Squires se uitspraak verlede week in die Durbanse hooggeregshof oor die toelaatbaarheid van 'n aantal bestrede dokumente in die Schabir Shaik-verhoor.

'n Gekodeerde Franse faks, wat Shaik en adj.pres. Jacob Zuma met omkopery verbind, is onder die dokumente wat deur Squires as bewysstukke toegelaat is.

Volgens Wiechers is dié deel van Squires se uitspraak belangrik waarin hy sê dat die gekodeerde faks nou op die skaal geplaas is.

"Vir die staat om sukses te behaal, sal die skaal moet afkom na die noodsaaklike vlak van bewys bo redelike twyfel," het Squires in sy uitspraak geskryf.

"Die nota is daar," sê Wiechers .

"Nou is dit vir die verdediging om te bewys wat die staat beweer is nie waar nie; dit het gegaan oor 'n onskuldige trust."

Adv. François van Zyl, SC, Shaik se regsverteenwoordiger, het vroeër aan die hof gesê die vergaderings en briewe wat volgens die staat dui op omkopery, is inderwaarheid korrespondensie tus sen Shaik en mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF, oor 'n skenking vir die Jacob Zuma Education Trust.

"Ons praat van 'n verskuiwende bewyslas," sê Wiechers . Volgens hom het die staat hom sodanig van sy taak gekwyt dat die las wat op die skaal geplaas is, nou deur die verdediging hanteer moet word.

Hy sê 'n moeilike taak lê vir die Shaik-regspan voor . "Die staat het nie net bewys dat die dokument (faks) voor die hof moet kom nie, maar dit ook inhoudelik bewys."

Die staat se "vernaamste" getuienis is nou deur die hof aanvaar en die bedenkinge dat dit hoorsê-getuienis was, is daarmee heen.

"Ons is nog ver daarvan af dat Shaik veroordeel is, maar die bewysstuk is nou op die skaal en hy sal met sy verweer die skaal in sy guns moet laat swaai. "

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.