Staat Sluit Saak Teen Shaik |
Publication | Beeld |
Date |
2005-02-02 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Ná tien weke se getuienis het die staat Woensdag sy saak teen mnr. Schabir Shaik, flambojante Durbanse sakeman en adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, gesluit.
Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, het regter Hilary Squires ingelig dat mnr. Johan du Plooy, die ondersoekbeampte, die staat se laaste getuie was.
Shaik staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
Squires het die saak tot Vrydag uitgestel wanneer Downer en adv. Francois van Zyl, SC, Shaik se regsverteenwoordiger, sal argumenteer oor die toelaatbaarheid van 'n aantal dokumente as bewysstukke.
Onder hulle is die berugte gekodeerde Franse faks wat Shaik, Zuma en mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die wapenmaatskappy Thomson-CSF, by omkopery betrek.
Daarluidens sou Zuma R500 000 per jaar ontvang in ruil vir die beskerming van Thomson-CSF teen 'n wapenondersoek en vir die bevordering van hul belange in Suid-Afrika.
Thétard het vroeër in 'n beëdigde verklaring erken hy was die outeur van die oorspronklike nota, maar gesê dit was los gedagtes wat hy op 'n papier neergeskribbel en later weggegooi het.
Me. Sue Delique, Thétard se voormalige sekretaresse, het egter getuig dat sy die "omkoopooreenkoms" moes tik en aan die Thomson-base in Frankryk moes faks.
Die Skerpioene kon nie 'n kopie daarvan in Thomson-CSF se kantore in Frankryk of Mauritius opspoor nie, maar Delique het later die geskrewe nota en 'n getikte weergawe van die faks op 'n rekenaarskyfie gevind.
Thétard weier om na Suid-Afrika te kom.
Du Plooy het Woensdag getuig dat 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming gekanselleer is nadat hy erken het hy was die outeur van die nota.
Adv. Bulelani Ngcuka, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, het egter in 'n brief aan adv. Kessie Naidu, SC, Thomson-CSF se regsverteenwoordiger in Suid-Afrika, geskryf dat die aanklagtes teen hulle weens Thétard se verklaring teruggetrek word, maar dit nie beteken Thomson-CSF of sy werknemers is gevrywaar van vervolging nie.
Dit het gelei tot 'n verklaring deur Thétard waarluidens hy net bereid is om met die Skerpioene saam te werk as hulle hom in Frankryk ondervra en as hy daar kan getuig.
Om dié geskrewe nota en getikte weergawe as bewysstukke by die hof in te dien, sonder dat die outeur daarvan getuig het, wil Downer hom op dele van die Strafproseswet beroep wat voorsiening maak vir die toelating van hoorsê- getuienis in 'n hofsaak.
Daar word verwag dat Downer sal aanvoer die faks is 'n belangrike verklaring deur 'n samesweerder wat meer lig sal werp op die pleeg van die misdryf.
Ander betwiste dokumente is die beweerde leningsooreenkoms tussen Shaik en Zuma wat glo in die parlement se vertroulike bateregister vervat is, 'n verklaring deur mnr. David Wilson van die Maleisiese maatskappy Renong oor beweerde inmenging deur Zuma met die toekenning van 'n kontrak en verskeie dokumente waarop die Skerpioene beslag gelê het by Thomson-CSF (Thales) se kantoor in Mauritius.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.