Gebruik van Stralers Ondersoek |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-14 |
Reporter |
Mandy Rossouw |
Web Link |
Kaapstad. - Wat maak adj.pres. Jacob Zuma so gereeld in Durban?
Dit is een van die vrae wat die DA in die parlement beantwoord wil hê met die ondersoek wat die party begin het na Zuma se gebruik van die regering se private stralers.
Mnr. Gareth Morgan, DA-LP, het in 'n parlementêre vraag aan Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, gevra hoeveel binnelandse vlugte per jaar deur Zuma met dié stralers onderneem word.
Dit het aan die lig gekom Zuma en sy ondersteuningspersoneel het sedert Januarie verlede jaar sowat R11,2 miljoen bestee aan vlugte in die Falcon 50, die Falcon 900 en die Citation 550 - die drie stralers wat vir baie belangrike persone in die regering gebruik word.
Altesame 73 van die 126 vlugte wat Zuma onderneem het, was na Durban en meestal net vir 'n dag.
Volgens Morgan sou Zuma die belastingbetaler meer as R5,6 miljoen kon bespaar as hy en sy personeel eerder op kommersiële lugdienste gevlieg het met besigheidsklas, wat hulle R3 000 per persoon uit die sak sou jaag.
Die gemiddelde koste per persoon vir die vlugte met die private stralers beloop R12 000.
"Ons is baie skepties oor veral die vlugte na Durban," het Morgan Sondag gesê.
"Ons aanvaar die adjunkpresident en andere moet die stralers soms gebruik, maar dit is nie nodig om die belastingbetaler se geld te mors indien daar goedkoper opsies beskikbaar is nie," meen Morgan.
Mnr. Rafeek Shah, DA-woordvoerder vir verdediging, het Sondag in 'n verklaring gesê 'n hersiening van die vlugte moet gedoen word.
"Die DA sal die portefeuljekomitee vir verdediging vra om die beleid vir die gebruik van die stralers van die Suid-Afrikaanse lugmag te hersien. Dié stralers behoort slegs vir amptelike regeringsake gebruik te word en dan slegs wanneer kommersiële lugdienste nie beskikbaar is nie. Dit behoort nie gebruik te word vir private sake nie en definitief nie vir partypolitieke sake nie," het hy gesê.
Geeneen van Zuma se woordvoerders was Sondag beskikbaar vir kommentaar nie.
Met erkenning aan Mandy Rossouw en die Beeld.