Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-14 Reporter: Willem Jordaan

NV, Parlement Stry of LP's in Hof Mag Getuig

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-14

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) en die parlement is in 'n meningsverskil gewikkel oor of twee LP's die nodige toestemming het om in die opspraakwekkende Shaik-verhoor te getuig.

Een van dié LP's se getuienis kan betrekking hê op 'n brief waarin adj.pres. Jacob Zuma in 2001 kapsie gemaak het teen die manier waarop 'n ondersoek na die regering se wapentransaksie gehanteer is.

In reaksie op mediaberigte dat dr. Gavin Woods van die IVP en me. Patricia de Lille van die OD gedagvaar is om te getuig in die Shaik-verhoor het me. Baleka Mbete, die speaker, in 'n verkla ring uitgewys dat die parlement LP's toestemming moet gee om oor parlementêre bedrywighede of dokumente te getuig.

"As die vereiste toestemming nie verkry word nie, kan 'n LP skuldig bevind word aan minagting van die parlement ingevolge die wet."

In teenstelling hiermee het mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die NV, gesê De Lille het nie toestemming nodig nie omdat haar getuienis geen betrekking op die parlement se bedrywighede sal hê nie. In Woods se geval het die vorige speaker, dr. Frene Ginwa la, volgens Ngwema reeds toestemming gegee.

Mnr. Lunga Ngqengelele, die speaker se woordvoerder, hou egter vol dat Ginwala se toestemming nie die huidige parlement bind nie. Hy kon nie sê of die parlement toestemming sal gee nie.

Ngwema het gesê indien nodig sal die vervolgingsgesag weer toestemming vra.

Woods, voormalige voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge, het gesê daar kan van hom verwag word om te getuig oor 'n brief wat Zuma in 2001 aan hom geskryf het.

In dié brief het Zuma Woods op die vingers getik oor die wyse waarop hy 'n ondersoek na korrupsiebewerings met die regering se wapenkontrak gehanteer het. Die adjunkpresident het Woods onder meer van 'n "visvangekspedisie" beskuldig omdat hy reeds vooraf sou besluit het korrupsie is in die wapentransaksie gepleeg.

Woods het bevestig dat Ginwala, wat sedertdien deur Mbete vervang is, toestemming gegee het dat hy kan getuig. Indien nodig is hy bereid om weer deur die proses te gaan om toestemming te kry.

Hy meen 'n bepalende faktor kan wees of Zuma se brief aan hom as 'n parlementêre dokument geag kan word.

Volgens De Lille gaan sy getuig ongeag of die parlement toestemming gee of nie.

Met erkenning aan Willem Jordaan en die Beeld.