Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-03 Reporter: JanJan Joubert

Speaker Stuit Vrae

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-03

Reporter

Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Die parlementêre vraag waarmee die DA Woensdag groter duidelikheid wou kry oor adj.pres. Jacob Zuma se beweerde ontmoetings met die Franse wapenhandelaar mnr. Alain Thétard is buite orde verklaar.

Die DA is baie ontevrede oor dié beslissing, wat steun op die sub judice-reël, maar dit lyk asof die kwessie vir eers sal moet doodloop, minstens tot die einde van die Schabir Shaik-hofsaak.

Me. Raenette Taljaard, DA-LP, het Zuma gevra om die antwoord van 'n vroeëre parlementêre vraag, waarin hy gesê het hy het Thétard nie op 11 Maart 2000 ontmoet nie, in heroorweging te neem.

Dit is tans in die Shaik-saak voor die Durbanse hooggeregshof gemene saak dat só 'n ontmoeting wel plaasgevind het, maar op 10 Maart - dus 'n dag vroeër as wat Taljaard gevra het.

Voorts het Taljaard die geldigheid nagegaan van 'n antwoord van Zuma voor die parlement se etiekkomitee dat die betalings wat hy via Shaik ontvang het, rentedraende lenings was.

Dít kom ná bevindings in KPMG se ouditverslag, tans voor die hof, dat geen teken gevind kon word dat dié bedrae lenings was nie.

Me. Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het in 'n brief aan Taljaard haar mening gelug oor dié vrae, wat reeds in gedrukte vorm versprei is vir beantwoording Woensdag. Die brief het Taljaard Dinsdag bereik.

"Die kwessies wat in u vraag opgehaal word, is ter sprake in 'n huidige regsproses. Ek adviseer u dus dat dié vraag buite orde is en dat u nie daarmee kan voortgaan nie omdat dit nie aan die sub judice-reël voldoen nie.

"Reël 67 van die nasionale vergadering bepaal dat geen parlementslid sal verwys na enige kwessie waaroor uitspraak nog gelewer moet word nie."

Volgens mnr. Douglas Gibson, DA-hoofsweep, is die sub judice-reël nie ter sprake nie omdat Zuma nie die beskuldigde of 'n getuie in die Shaik-verhoor is nie. Boonop is geen hofuitspraak uitstaande oor Zuma se stellings aan die parlement nie. Die DA meen die speaker pas die sub judice-reël te eng toe en ontneem Zuma boonop 'n geleentheid om sy kant van die saak te stel.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.