Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-18 Reporter: Dries Liebenberg

Shaik 'Moeg Vir Swart Mense'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-18

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - "Ek is nou moeg vir hierdie swart mense."

Opmerkings soos dié deur mnr. Schabir Shaik, finansiële raadgewer van adj.pres. Jacob Zuma, het bygedra tot haar mening dat haar voormalige baas se Nkobi-groep nie werklik 'n swartbemagtigingsmaatskappy is nie.

Só het mev. Bianca Singh, Shaik se voormalige persoonlike assistent, Maandag in die Durbanse hooggeregshof getuig in dié sakeman se korrupsieverhoor.

Benewens sulke opmerkings wat Shaik in die privaatheid van sy kantoor teenoor haar gedoen het, het dit Singh ook gepla dat swart mense as direkteurs van die groep gelys is, maar van hulle het volgens haar byna geen bydrae gelewer nie.

Mnr. J. Ngcobo, een van die swart direkteurs wie se naam op 'n brosjure van die groep verskyn, het sy net een keer in die Nkobi Holdings-kantoor gesien, het Singh getuig.

"Jy kan nie net swart mense se name op 'n briefhoof sit (vir die skyn van swartbemagtiging) as hulle nie tot die maatskappy bydra nie," het Singh getuig.

"As swart bemagtiging veronderstel is om swart mense te help; jy kan jou nie voordoen as iets wat jy nie is nie."

Sy het ook getuig sy het gehoor hoe Shaik vir adj.pres. Jacob Zuma "my broer" noem.

Die hof het vroeër gehoor hoe Shaik en Zuma mekaar in die anti-apartheidstryd ontmoet en hegte bande gesmee het. "Hulle het 'n baie, baie hegte verhouding," het Singh in kruisondervraging deur adv. François van Zyl (SC), vir die verdediging, gesê.

Sing het ook getuig sy het by geleentheid by Shaik gehoor mnre. Colin Isaacs, rekenkundige beampte, en Phambili Gama, direkteur, het Nkobi-aandele.

Die hof het tot dusver getuienis gehoor dat die Nkobi-groep op sy status as swartbemagtigingsmaatskappy staat gemaak het om sakevennote vir gesamentlike projekte te lok. Shaik het volgens getuienis telkemale met die name van adj.pres. Jacob Zuma en "ander ministers" te koop geloop om vennote te werf.

Die staat voer aan Shaik het Zuma effektiewelik bindgeld betaal om die sakeman se private belange te bevorder.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.