Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-04 Reporter: Jan-Jan Joubert Reporter: Willem Jordaan

Speaker Beskerm Swetende Zuma Teen Vrae

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-04

Reporter

Jan-Jan Joubert, Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad - Die parlementêre vraag waarmee die DA gister groter duidelikheid wou kry oor adj. pres. Jacob Zuma se beweerde ontmoetings met die Franse wapenhandelaar, mnr. Alain Thétard, is buite orde gereël.

Die DA is baie ontevrede oor dié beslissing, maar dit lyk asof die kwessie vir eers sal moet wag - minstens tot die einde van die Schabir Shaik-hofsaak.

Me. Raenette Taljaard, DA-LP, het Zuma gevra om die antwoord van 'n vroeëre parlementêre vraag, waarin hy gesê het hy het Thétard nie op 11 Maart 2000 ontmoet nie, in heroorweging te neem. Hy het ook te kenne gegee dat hy onseker is of hy Thétard ooit ontmoet het.

Dit is tans in die Shaik-saak voor die Durbanse hooggeregshof gemene saak dat só 'n ontmoeting wel plaasgevind het, maar op 10 Maart - dus 'n dag vroeër as wat Taljaard gevra het.

Voorts het Taljaard die geldigheid nagegaan van 'n antwoord van Zuma voor die parlement se etiekkomitee, dat die betalings wat hy via Shaik ontvang het, rentedraende lenings was.

Dít volg ná bevindings in KPMG se ouditverslag - tans voor die hof - dat geen teken gevind kon word dat dié bedrae lenings was nie.

Me. Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het in 'n brief aan Taljaard haar mening oor dié vrae gelug.

"Die kwessies wat in u vraag opgehaal word, is tans ter sprake in 'n regsproses. Ek adviseer u dus dat dié vraag buite orde is en dat u nie daarmee kan voortgaan nie omdat dit die sub judice-reël oortree.

"Reël 67 van die nasionale vergadering bepaal dat geen parlementslid sal verwys na enige kwessie waarop uitspraak nog gelewer moet word nie."

In reaksie het mnr. Douglas Gibson, DA-hoofsweep, gesê terwyl die DA die speaker se besluit respekteer, die party nie daarmee saamstem nie.

Volgens Gibson is die sub judice-reël nie ter sprake nie omdat Zuma nie die beskuldigde of 'n getuie in die Shaik-verhoor is nie.

Die DA meen die speaker pas die sub judice-reël te eng toe en ontneem Zuma boonop 'n geleentheid om sy kant van die saak te stel.

Met gister se vraesessie het opposisiepartye nietemin alles in die stryd gewerp om Zuma in 'n hoek te druk. Sake het op 'n hoë noot begin toe DA-LP's geskree het: "Dis 'n toesmeerdery!"

Kort daarna het mnr. Willem Doman, DA-LP, Zuma in 'n opvolgvraag probeer vra of die Shaik-verhoor nie sy "lewenstyl en integriteit" in só mate onder verdenking bring dat hy dalk liewer sy amp moet neerlê nie.

Mbete het dié vraag ook nie toegelaat nie. Ná die vraesessie het die merkbaar verligte Zuma sweet van sy voorkop afgevee.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Willem Jordaan en Die Burger.