Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-28 Reporter: Adriaan Basson

Zuma 'Leef Op Sy Skuld'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-28

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Net die rente wat die adjunkpresident op sy skuld af behoort te betaal, is "in die omgewing van sy salaris".

Mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, het Donderdag só getuig oor adj.pres. Jacob Zuma se geldsake in die verhoor van mnr. Schabir Shaik.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Van der Walt het Donderdag byna klaargemaak met die voorlees van 'n forensiese verslag van 250 bladsye wat KPMG in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) saamgestel het.

Zuma se geldsake het ter sprake gekom weens betalings van ongeveer R1,2 miljoen wat uit Shaik se Nkobi-groep aan Zuma gedoen is.

Van der Walt het beklemtoon wat hy vroeër gesê het dat Zuma se regeringsalaris nie genoeg was om sy lewenstyl te handhaaf nie.

KPMG het betalings aan en van Zuma tussen Julie 1996 en Desember 2003 bekyk.

In hierdie tydperk het Zuma se totale inkomste R3 864 865,73 beloop en sy uitgawes R4 294 639,58.

Dié bedrae sluit die R1 269 836,41 uit wat deur Shaik en/of maatskappye in die Nkobi-groep in hierdie tydperk aan Zuma se uitgawes bestee is.

Ál betalings van Zuma aan Shaik wat KPMG egter kon identifiseer, was twee bedrae van R10 000 elk in 1998 en 1999.

Die verslag meld ook twee skulderkennings van onderskeidelik R200 000 en R140 000 aan Shaik wat Zuma onderteken het.

Luidens die verslag het Zuma se finansiële probleme in 1995 begin met 'n brief van sy bankbestuurder oor agterstallige betalings op 'n huisverband.

'n "Algemene patroon" van slegte skuld het gevolg tot op 'n punt waar Zuma nie meer sy skuld met sy salaris kon delg nie.

Een só 'n voorbeeld is 'n Mercedes-Benz E320 wat Zuma in 1997 deur Eerste Nasionale Bank gekoop het. Daar was nie genoeg geld in die adjunkpresident se rekening om sy eerste paaiement van R8 024,85 te betaal nie.

Die betalings is later deur Kobitech, 'n filiaal van Shaik se Nkobi Holdings, oorgeneem.

In 1999 was Zuma glo in 'n motorongeluk in Rosebank, Johannesburg, met sy Mercedes betrokke. Shaik het die herstelwerk van R20 520 betaal.

Volgens Van der Walt is dit "duidelik" dat Zuma nooit die geld gehad het vir die skuld wat hy aangegaan het nie.

"Die ander moontlikheid is natuurlik dat hy die skuld aangegaan het omdat hy geweet het 'n ander party gaan dit vereffen," het Van der Walt gesê.

As "ander party" het hy na Shaik en/of die Nkobi-groep verwys.

Nadat Shaik hom as Zuma se finansiële adviseur gevestig het, het hy (Shaik) glo met die finansiële instansies gekommunikeer waaraan Zuma geld verskuldig is.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.