Shaik-Span Speel Troefkaart |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-04 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - 'n Opspraakwekkende "geheime" skuldooreenkoms tussen adj.pres. Jacob Zuma en mnr. Schabir Shaik het Donderdag vir die eerste keer - in faksvorm - sy verskyning in die Shaik-verhoor gemaak.
Dié ooreenkoms, wat glo op 16 Mei 1999 deur Zuma en Shaik onderteken is en deur Zuma by die parlement se geklassifiseerde bateregister ingedien is, is 'n troefkaart in Shaik se verweer dat hy geld aan Zuma geléén en nie gegéé het nie.
Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Die staat beweer dat Shaik en/of maatskappye in sy Nkobi-groep tussen 1 Oktober 1995 en 30 September 2002 korrupsie gepleeg het deur Zuma se invloed te "koop" met betalings van ongeveer R1,2 miljoen.
Shaik ontken dit en sê dit was lenings aan Zuma.
Mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, het vroeër getuig hulle kon geen bewyse vind dat die betalings van Shaik en/of die Nkobi-groep aan Zuma lenings was nie.
Luidens Shaik se pleitverduideliking het hy nie gedink 'n skulderkenning vir die beweerde lenings aan Zuma is nodig nie, maar het Zuma glo daarop aangedring. Hy het oorspronklik nie rente op die lenings gehef nie omdat dit teen sy Moslem-geloofsoortuigings is.
Op 16 Mei 1999 het Shaik en Zuma egter, luidens die dokument wat Donderdag deur adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, by die hof ingedien is, 'n skriftelike skuldooreenkoms aangegaan.
Luidens die ooreenkoms onderneem Shaik om 'n lening "wat nie R2 miljoen oorskry nie" aan Zuma te doen.
Die lening sou glo vir vyf jaar geld en dan moes Zuma sy skuld én rente op die lening (prima koers plus 2%) terugbetaal.
Volgens Van Zyl het Zuma teen Shaik se wil daarop aangedring dat hy rente betaal.
Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, het verras gelyk toe die dokument deur Van Zyl ingelewer is en gesê die staat dra "geen kennis" daarvan nie. Regter Hilary Squires het die dokument toegelaat en aan Downer gesê hy kan dit tydens herondervraging in twyfel trek.
Shaik wou nie in teetyd toelaat dat joernaliste die dokument kopieer nie en het later gesê Zuma moet die amptelike deklassifisering daarvan nog goedkeur.
Van Zyl het die hof Donderdag daarop gewys dat daar meer terugbetalings deur Zuma aan Shaik is as wat Van der Walt in sy verslag bevind het en dat Zuma skulderkennings onderteken het waarvan KPMG glo nie weet nie.
Volgens Van Zyl was dit ook geen geheim "binne en buite" die Nkobi-groep dat Shaik betalings aan of namens Zuma gedoen het nie, waarop Van der Walt gesê het "ek is seker hulle was maar net te gelukkig om hul geld te kry".
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.