Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-12-07 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik-Saak Hoor Vakbondleier was 'Sonder Sy Wete' Direkteur

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-12-07

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Vakbondleier het gister in die Shaik-verhoor getuig sy gesig het in die Nkobi-groep se brosjure verskyn sonder dat hy geweet het hy is 'n direkteur van dié groep.

Mnr. Jabu Ngcobo, voorsitter van die Workers' College in KwaZulu-Natal, het gesê hy was bewus daarvan dat iemand van dié organisasie, wat geld insamel om opleidingsprogramme vir vakbondlede te finansier, 'n direkteur van mnr. Schabir Shaik se Nkobi Holdings sou word, maar het eers "in die koerante gesien" dat dit hy is.

Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Ngcobo was gister die staat se laaste getuie vir vanjaar. Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, het aangedui dat die staat beplan om sy saak te sluit kort nadat die hofverrigtinge op 31 Januarie volgende jaar hervat het.

Die hof het gister gehoor hoe mnr. Yunus Shaik, Schabir Shaik se broer en voormalige direkteur van die Workers' College, oorspronklik met die idee vorendag gekom het dat die kollege 'n aandeelhouer van Nkobi Holdings word.

Ngcobo het gister getuig hulle het gesukkel om geld te kry en het die aanbod van 'n 10%-aandeelhouding - as deel van wyer swart ekonomiese bemagtiging (SEB) - aanvaar. Ngcobo het egter nie geweet hy was 'n direkteur van Nkobi Holdings nie. Volgens dié maatskappy se verslae was Ngcobo tot in Augustus 1998 'n direkteur.

Ngcobo het gister getuig hy was onbewus van sy "status" totdat mediaberigte oor die regering se omstrede wapentransaksie in 2000 verskyn het.

"Ek is na Nkobi se kantore omdat Yunus (Shaik) my aan die mense daar wou voorstel. Ek onthou 'n foto is geneem, maar ek was onder die indruk dit is om te wys die Workers' College is deel van Nkobi Holdings se aansoek om die rybewyse-kontrak." Shaik se Nkobi-groep is die SEB-vennoot van Prodiba wat ID-rybewyse vir die departement van vervoer vervaardig.

Ná die berigte in 2000 wat die Workers' College betrek het by die wapentransaksie waaruit Shaik baat gevind het, is 'n vergadering glo gehou "om die skade te verminder".

'n Brief is aan Nkobi se ouditeurs geskryf om te vra wat die status van die kollege se aandeelhouding is.

Mnr. Reeves Parsee, Nkobi en Shaik se prokureur, het teruggeskryf dat die Workers' College ongeveer R101 miljoen aan Nkobi Holdings moet betaal om 'n aandeelhouer te bly "omdat ons geen finansiële bydrae tot die maatskappy maak nie".

Volgens mnr. Kessie Moodley, huidige direkteur van die kollege, het hulle besluit om eerder die aandele, wat ontvang is "om Nkobi Holdings se SEB-hand te sterk", terug te gee.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.