Publication: Beeld Issued: Date: 2005-03-03 Reporter: Estelle Ellis

Hof Verdaag oor Dokument wat Wys Shaik Skryf as Zuma

 

Publication 

Beeld

Date

2005-03-03

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - 'n Nuwe dokument wat die staat wil gebruik om te bewys mnr. Schabir Shaik het briewe in adj.pres. Jacob Zuma se naam geskryf, het die Shaik-verhoor Donderdag tot stilstand laat kom.

Regter Hilary Squires het die hof omstreeks 15:00 verdaag om te besluit oor die toelaatbaarheid van 'n nuwe dokument wat die staat op die rekenaars van Shaik se Nkobi Holdings gevind het.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, het die hof Donderdag verras deur te vra of hy Shaik kan kruisondervra oor 'n dokument wat nog nie deur die staat as bewysstuk ingedien is nie.

Dít spruit uit Shaik se ontkenning Donderdagoggend dat hy kennis dra van 'n brief wat Zuma op 31 Oktober 1996 aan Tan Sri Halim Saad, hoof van die Maleisiese maatskappy Renong, geskryf het oor die ontwikkeling van die Punt-waterfront in Durban.

Die Skerpioene het by Nkobi Holdings se kantore beslag gelê op dié dokument.

Shaik het Donderdag gesê hy weet nie hoe die brief by sy kantoor beland het nie en kan nie onthou dat hy en Zuma daaroor gepraat het nie.

Gedurende middagete het die staat nóg 'n dokument, soortgelyk aan die Zuma-brief aan Saad, op 'n CD gevind met dokumente wat op die Nkobi-rekenaars se hardeskywe gekry is.

Benewens die 150 000 dokumente waarop die staat beslag gelê het, is minstens 300 000 elektroniese dokumente - waaronder die nuwe dokument - ook deel van die staat se dossier.

In die Zuma-brief, wat reeds as 'n bewysstuk ingedien is, skryf hy as KwaZulu-Natalse LUR van finansies en toerisme aan Saad dat hulle in Durban moet vergader oor potensiële vennote vir die Punt-ontwikkeling.

Die dokument is op 'n briefhoof van Zuma se departement getik, maar nie deur hom onderteken nie. Renong se betrokkenheid by die Shaik-verhoor hou verband met die staat se bewering dat Zuma sy invloed gebruik het om Shaik te help om as 'n bemagtigingsvennoot deel te wees van die Punt-ontwikkeling.

Renong is een van die ontwikkelaars van die Waterfront.

Adv. François van Zyl, SC, Shaik se regsverteenwoordiger, het die indiening van die nuwe dokument teengestaan en gesê die staat moes dit as 'n bewysstuk ingedien het terwyl hul saak nog oop was.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.