Hof Hoor Hoe Heath Vergeefs Probeer |
Publication | Beeld |
Date | 2004-12-02 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Oudregter Willem Heath het Donderdag vir oulaas 'n aanval op die uitsluiting van sy spesialis-ondersoekeenheid uit die wapenondersoek gedoen en met verwysing na die regering se wapentransaksie gesê "daar is baie dinge waarvan ons nooit sal weet nie".
"As mense so kwaai veg om jou uit te hou, weet jy iets is verkeerd," het Heath gister buite die Durbanse hooggeregshof gesê nadat hy in die Shaik-verhoor getuig het.
Heath bedryf tans sy eie ondersoek-en-konsultasie-onderneming.
Mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Een van die aanklagte teen Shaik is dat hy 'n omkoopooreenkoms tussen Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF sou reël waarvolgens Zuma R500 000 per jaar sou ontvang in ruil vir die beskerming van Thomson-CSF teen 'n wapenondersoek.
Shaik het uit die wapentransaksie baat gevind deur sy indirekte aandeelhouding in African Defence Systems (ADS), wat die kontrak van R1,3 miljard gekry het vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe korvette.
Heath het destyds inligting van me. Patricia de Lille, tans OD-leier, ontvang wat aantygings bevat het oor korrupsie met die regering se wapentransaksie van R30 miljoen.
Ingevolge wetgewing moes die Heath-eenheid destyds by die staatspresident aansoek doen om 'n proklamasie wat as goedkeuring vir 'n ondersoek sou dien.
"Dit was 'n proses soos enige ander.
"Maar ons het besef ons het substantiewe inligting nodig voordat ons om 'n proklamasie aansoek kon doen," het Heath gister getuig.
Nadat Heath hul aansoek by dr. Penuell Maduna, destyds minister van justisie, ingedien het, "het ons niks gehoor nie".
"Niks het daaruit gevolg nie. Ons het nie eens 'n erkenning van ontvangs gekry nie. Niks nie."
Op 'n vergadering in November 2000 tussen die Heath-eenheid, die openbare beskermer (OB), die ouditeur-generaal (OG) en die nasionale vervolgingsgesag (NV) is besluit dat al vier instellings deel moet wees van 'n volskaalse ondersoek na die wapentransaksie.
Mnr. James van Heerden, korporatiewe hoof in die ouditeur-generaal se kantoor, het dit gister in die hof bevestig.
Volgens Heath sou sy eenheid "uit 'n siviele oogpunt" spesifiek na die geldigheid van kontrakte en die aankoop van die wapens gekyk het.
Op 18 Januarie 2001 het pres. Thabo Mbeki op televisie aangekondig dat die Heath-eenheid nie deel sou wees van die wapenondersoek nie. Kort hierna het die OB, die OG en NV ook, volgens Heath, hul steun aan sy eenheid onttrek.
"Daar is geen twyfel dat as objektiewe oordeel deur die president toegepas is, hy geen ander keuse sou gehad het as om ons in te sluit nie," het Heath gister getuig.
Buite die hof het hy gesê die "ware kwessies" ten opsigte van die wapentransaksie is nooit ondersoek nie. Dít, volgens Heath, is die geldigheid van die tenderprosesse en kontrakte.
"Kernaspekte is nie ondersoek nie. Groot dele het nooit vorendag gekom nie. Daar is baie dinge waarvan ons nooit sal weet nie," het hy gesê.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.