Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-13 Reporter: Dries Liebenberg

Verkorte Verhoor vir Shaik?

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-13

Reporter

Dries Liebenberg,

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Die verhoor van mnr. Schabir Shaik in die hooggeregshof sal nie so uitgerek wees as wat voorheen gereken is nie.

Dit is grootliks te danke aan die erkennings wat Shaik Woensdag in sy pleitverduideliking by die aanvang van sy korrupsieverhoor gedoen het, het adv. Billy Downer, hoofaanklaer, gesê.

Shaik erken dat hy en tien maatskappye waarby hy betrokke is tussen 1995 en 2002 R1,24 miljoen oorbetaal het en dat adj.pres. Jacob Zuma daarby baat gevind het.

Dié sakeman en finansiële raadgewer van Zuma ontken dat dit gedoen is met die doel om die adjunkpresident om te koop.

Danksy dié erkennings kan daar van meet af by die kern van die saak - wat die bedoeling met die betalings was - uitgekom word en hoef die staat nie elke transaksie nog te bewys nie, het Downer gesê.

Dit beteken dat die staat baie van die meer as 100 getuies op sy lys nie hoef te roep nie.

Downer het ook laat blyk dat die verdediging nie die toelaatbaarheid gaan betwis van sommige dokumente waarop die staat in Oktober 2001 in Suid- Afrika beslag gelê het en wat die staat as bewysstukke wil indien nie.

Die Skerpioene het op 9 Oktober 2001 tydens gelyktydige klopjagte by die kantore van Shaik se Nkobi-groep in Durban, asook die Thales-groep se kantore in Frankryk en Mauritius, beslag gelê op 'n groot hoeveelheid dokumente.

Volgens Downer gaan die staat swaar leun op dié dokumentêre bewyse. Van dié dokumente sal bewys wees van Shaik en die Thales-groep se bedoelings, het Downer in sy openingsrede gesê.

Die verdediging oorweeg dit steeds om die toelaatbaarheid van dokumente waarop in Mauritius beslag gelê is, te betwis.

Dit sluit moontlik die veelbesproke faks in waarin 'n senior Thales-werknemer, mnr. Alain Thétard, glo melding maak van die ooreenkoms om Zuma om te koop sodat hy die Franse groep in die ondersoek na die wapentransaksie sal beskerm.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.