Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-11-15 Reporter: Kommentaar Reporter:

Verkwisting

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-11-15

Reporter

Kommentaar

Web Link

www.news24.com

 

Rykdom is soos seewater: Hoe meer 'n mens daarvan drink, hoe dorstiger word jy, het die Duitse filosoof Arthur Schopenhauer opgemerk - 'n waar neming wat nogal van toepassing is op die nuwe regerende elite as nuusberigte van die afgelope naweek in oënskou geneem word.

Verlede week moes die parlement hoor hoe adj. pres. Jacob Zuma en sy kantoor belastingbetalersgeld verkwis deur 'n regeringsvliegtuig gemiddeld elke vyf dae te gebruik. Volgens statistieke kan hy en sy entourage, wat gemiddeld uit agt persone bestaan wat hom op vlugte vergesel, meer as 50% bespaar deur van handelslugdienste gebruik te maak.

Zuma se onvermoë om in sy private sake finansiële verantwoordelikheid aan die dag te lê, kom daagliks in die saak teen mnr. Schabir Shaik in die Durbanse hooggeregshof na vore. Dit is duidelik nie beperk tot sy persoonlike lewe nie omdat swak finansiële bestuur ten koste van die belastingbetaler ook hoogty vier in sy hoedanigheid as adjunkpresident. Dit is totaal onaanvaarbaar.

Die astronomiese salarisse wat sommige rektore van Suid-Afrikaanse universiteite en technikons verdien, vereis ook dringend die aandag van die regering. Dat die rektor van die Mangosuthu Technikon byna R3 miljoen per jaar verdien, en talle ander rektore ver oor 'n miljoen, is skandalig in 'n land waar 'n groot deel van die bevolking nie behuising, lopende water en elektrisiteit het nie en boonop ook werkloos is.

Onlangs het die minister van finansies, mnr. Trevor Manuel, hom sterk uitgespreek oor munisipale amptenare wat verkies om hulself te verryk met groot salarisse ten koste van hul arm gemeenskappe waar opheffing dringend nodig is.

Wanadministrasie deur regeringslui of onderwysinstansies behoort dringend aandag te geniet. Intussen kan Manuel begin by Zuma se departement.

Met erkenning aan Die Burger.