Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-01-08 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

Verslag oor Wapenkontrak Glo Verander

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-01-08

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Die omstrede wapenkontrak vir die weermag is opnuut in die spervuur en kan aansienlike verleentheid vir die regering veroorsaak.

Dit het gister aan die lig gekom dat 'n verslag oor beweerde ongerymdhede in die wapenkontrak verander is op 'n manier wat die regering in 'n beter lig as die oorspronklike stel. Pres. Thabo Mbeki sal nou moet sę of hy 'n kommissie van ondersoek na die kwessie gaan aanstel, want 'n amptelike versoek van die DA sal Mbeki se kantoor Maandag bereik.

Die veranderings wat aangebring is, blyk uit voorlopige weergawes van verslae oor die wapenkontrak wat deur die ouditeur-generaal (OG), die openbare beskermer en die nasionale direktoraat van openbare vervolgings saamgestel is.

Die verslae is nou aan dr. Richard Young, 'n Kaapstadse sakeman, ná 'n uitgerekte hofstryd met die OG oorhandig.

Mnr. Shauket Fakie, die OG, hou tot dusver voet by stuk dat geen wysigings weens onbehoorlike politieke beïnvloeding aangebring is nie.

In 'n beëdigde verklaring het Fakie voorheen gesę: "Die voorlopige verslae is aan die kantoor van die president gestuur met die uitsluitlike doel dat die feitlike inhoud daarvan deur die regering nagegaan word. Ons onderskeie opinies en bevindings was ononderhandelbaar en nie onderhewig aan veranderings in opdrag van enigiemand in die regering nie."

Uit die dokumente wat Young nou gekry het, blyk egter dat die voorlopige en finale verslae oor die kontrak verskil.

Luidens berigte in die Mail & Guardian en Business Day is verskeie stukke met die saamstel van die finale verslag weggelaat - insluitende kritiek op die toekenning van die kontrak vir Gripen-vegvliegtuie, invloed wat wyle mnr. Joe Modise, toe die minister van verdediging, glo uitgeoefen het in die toekenning van kontrakte en bevindings oor tekortkominge in die verkrygingsproses.

Byvoegings behels na berig word bevestigings van die integriteit van die wapenkontrak.

Fakie se kantoor het intussen in 'n verklaring gesę: "Dit is nie die OG se algemene praktyk om kommentaar te lewer op voorlopige dokumente nie weens die omvang van inligting wat daarin vervat word en die feit dat die inhoud van dié dokumente kan verander, omdat dit voorlopige dokumente is."

Op die vraag hoe Fakie se beëdigde ontkenning van onbehoorlike politieke beïnvloeding rym met die verskille tussen die voorlopige en finale verslae, het me. Joreta Linde, Fakie se woordvoerder, Die Burger na sy verslag aan die parlement oor bewerings van 'n toesmeerdery verwys. In dié verslag gee Fakie te kenne dat "redaksionele veranderings" aan voorlopige verslae normale praktyk is en dat veranderings in formaat wat nie die wesenlike inhoud van die verslag beïnvloed nie, soms nodig is.

Mnr. Eddie Trent, DA-woordvoerder oor openbare rekeninge, het gister gesę indien Mbeki nie 'n kommissie van ondersoek aanstel nie, sal dit 'n klinkklare aanduiding wees dat die regering onwillig is om beslissend op te tree wat betref groeiende bewerings van korrupsie.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.