Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-25 Reporter: Adriaan Basson

Vinger Wys na Zuma

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-25

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Die Durbanse hooggeregshof het Donderdag vir die eerste keer regstreekse getuienis aangehoor wat daarop dui dat adj.pres Jacob Zuma sy invloed as senior regeringsamptenaar gebruik het om mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep te bevoordeel.

Die Skotse akademikus prof. John Lennon het getuig dat Zuma hom op 4 Februarie 1999 in 'n brief aangeraai het om Shaik se maatskappy Nkobi Holdings te kies as swartbemagtigingsvennoot vir 'n toerismeprojek in KwaZulu-Natal. Zuma was destyds LUR vir finansies en toerisme in dié provinsie.

Dié brief aan Lennon, die brein agter 'n destydse projek om toerismeskole in Suid-Afrika te begin, is Donderdag as 'n bewysstuk by die hof ingedien. Dit is boonop van Nkobi Holdings se kantore aan Lennon gefaks.

Die verdediging het nie die inhoud van die dokument betwis nie en gesê dit is bloot van Nkobi se kantore gefaks omdat Zuma nie Lennon se faksnommer gehad het nie.

"Dit was duidelik dat Shaik Zuma in 'n mate kon beïnvloed," het Lennon Donderdag getuig. Volgens hom het hy met "soveel moontlik" mense gepraat om sy toerismeprojek werklikheid te maak.

Zuma was een van dié mense. Lennon het glo 'n vergadering met Zuma in sy Durbanse kantoor gehad waartydens Zuma sy steun aan die projek toegesê het. Zuma het glo belowe om 'n brief ter ondersteuning daarvan aan Lennon te skryf. Lennon het daarna weer kontak met die Nkobi-groep gehad nadat hy glo gesukkel het om dié brief te kry.

Op versoek van mnr. Deva Ponnoosami, Nkobi se verteenwoordiger in Brittanje, het Lennon toe glo 'n konsepbrief geskryf wat Zuma moes onderteken. Daarna het Zuma wel aan Lennon geskryf en verder gegaan deur aan te beveel dat die Skot Nkobi Holdings kontak met die oog op 'n gesamentlike projek.

Op dieselfde dag het mnr. Martyn Surman, namens Shaik, 'n brief aan Lennon geskryf waarin hy verwys na die Zuma-brief en vra dat Lennon vir Shaik moet kontak. Oók op dié dag het Zuma aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank geskryf dat hy as LUR vir finansies en toerisme Lennon se projek ondersteun.

Lennon het op 9 Februarie van dieselfde jaar teruggeskryf dat hy daarna uitsien om met Shaik te onderhandel en hom verwys na Lorimer Environmental Consultants, sy agent in Suid-Afrika.

Lorimer se betrokkenheid het klaarblyklik nie by Shaik byval gevind nie omdat hy gedink het Nkobi is Lennon se enigste Suid-Afrikaanse vennoot.

Surman het gevolglik op 15 Februarie 1999 in 'n brief gesê Shaik vind Lennon se reaksie "beledigend" en "dat dit ontbreek aan sake-etiek". Hy wou weet "waarom Lorimer hom nie kon help om 'n brief van Zuma te kry nie".

Shaik het Lennon drie dae gegee om na hom terug te kom oor sy kwellings, anders sou hy glo "na Zuma gaan". Op 24 Februarie 1999 het Shaik aan Ponnoosami geskryf hy sou die volgende dag met Zuma praat en "enigiets" doen om Lennon se projek te keer as daar nie aan sy versoeke voldoen sou word nie.

Volgens Lennon was Surman se brief "ongewoon en onregmatig" en het hy dit geïgnoreer. Lennon het daarna die Suid- Afrikaanse projekte gelos omdat hy "gewoon nie tyd gehad het om daarmee aan te gaan nie".

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.