Krygkor Weer in ouditeur se Visier |
Publication | Die Burger |
Date |
2005-04-30 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Krygkor moet wéér bewerings van duisende rande se kontrakbedrog met die toekenning van wapenkontrakte aan 'n omstrede wapenfirma bekyk.
Dít is die ouditeur-generaal (OG) se aanbeveling aan die parlement in 'n spesiale verslag wat gister ter tafel gelê is. Dit handel oor bewerings van ernstige onreëlmatighede met die toeken van kontrakte aan African Defence Systems (ADS).
Die bewerings hou verband met ADS se Projek Cocro om lugafweermissiele vir die lugmag te ontwikkel. ADS word besit deur die Franse wapenfirma Thomson-CSF (Thales) en het onder meer by die regering se omstrede wapentransaksie baat gevind deur die verskaffing van gevegsuites vir die nuwe fregatte.
Mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur wat in die Durbanse hooggeregshof teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog, is 'n indirekte aandeelhouer van ADS.
Die bewerings van bedrog is in 1998 vir die eerste keer deur mnr. Fritz Louw *1, 'n voormalige werknemer van ADS, gemaak.
Dit het onder meer gegaan oor die beweerde uitreiking van fakture deur Krygkor vir onvoltooide werk.
Krygkor se hersieningskomitee het ondersoek ingestel en in Februarie 2001 aangekondig dat geen bewyse van onreëlmatighede, bedrog of beplande optrede om bedrog te pleeg gevind kon word nie.
Louw het hierna 'n aanklag van bedrog teen Krygkor aanhangig gemaak en by die hof aansoek gedoen om toegang tot die hersieningskomitee se volledige verslag te kry.
In Augustus 2002 het hy ingevolge die wet op toegang tot inligting die volledige verslag bekom en in die middel van 2003 het Louw die OG oorreed om 8 van sy 72 bewerings te ondersoek.
Luidens die OG se verslag was Krygkor se interne bestuurstelsels nie voldoende om die bewerings te ondersoek nie en was daar bevindings wat nie deur die hersieningsraad ondersteun word nie.
Die OG beveel aan dat Krygkor se raad en bestuur sy verslag bestudeer en weer kyk of die bevindings van sy interne ondersoek voldoen aan die vereistes van die wet op die bestuur van openbare finansies.
'n Verheugde Louw het gister gesê die OG se aanbevelings "is 'n bewys dat ek nie nonsens gepraat het nie" en dat "geregtigheid in 'n mate nou geskied".
Hy sal binnekort die OG se verslag as deel van sy dossier aan die polisie oorhandig.
Mnr. Bertus Cilliers, Krygkor-woordvoerder, het gisteraand gesê die onderneming het die verslag nog nie behoorlik onder oë gehad nie, en sal later daarop kommentaar lewer.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.
*1
A man of teflon and stainless steel as well as unwavering commitment to exposing
the truth and doing what is right.