Vonke kan Spat Wanneer De Lille, Woods Getuig |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-28 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Die vonke kan Maandag van voor af spat wanneer me. Patricia de Lille, OD-leier, en dr. Gavin Woods, IVP-LP en voormalige voorsitter van die parlementêre waghondkomitee oor openbare rekenings, in die Shaik-verhoor getuig.
De Lille en Woods se getuienis hou verband met die regering se omstrede wapentransaksie in 1999.
De Lille getuig Dinsdag en Woods na verwagting ná haar.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Aanklag drie, dat Shaik skuldig is aan korrupsie omdat hy glo gereël het dat Zuma omkoopgeld van R500 000 per jaar ontvang in ruil vir die beskerming en bevordering van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF, is ter sprake met De Lille en Woods se getuienis.
De Lille, destyds 'n PAC-LP, het op 9 September 1999 in die parlement gesê daar is onreëlmatighede met die wapentransaksie.
Later het die minister van verdediging 'n spesiale oorsig van die wapentransaksie deur die ouditeur-generaal (OG) goedgekeur. Op 2 Oktober 2000 het die OG sy spesiale oorsig verwys na die parlement se staande komitee vir openbare rekenings (Skoor).
Skoor, onder voorsitterskap van Woods, het in sy 14de verslag aan die parlement aanbeveel dat 'n gesamentlike ondersoek na die wapentransaksie deur die Heath-eenheid, die Nasionale Vervolgingsgesag (NV), die OG en die openbare beskermer gedoen word.
Op 19 Januarie 2001 het Zuma 'n brief aan Woods geskryf waarin die uitsluiting van die Heath-eenheid uit die ondersoek benadruk word. Op dieselfde dag het pres. Thabo Mbeki aangekondig dat Heath nie deel sal wees van só 'n ondersoek nie.
Die staat gaan glo volgende week vir Heath as 'n getuie roep.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.