Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-22 Reporter: Dries Liebenberg

Media Weer Teen Vooruitloop Gemaan

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-22

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Die staat het 'n sterk pleidooi gerig dat die media gelas word om nie getuienis oor 'n forensiese oudit in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik vooruit te loop nie.

Ofskoon regter Hilary Squires nie sover gegaan het as om te gelas dat die media nie nou reeds kopieë van die verslag mag kry nie, het hy 'n vroeëre waarskuwing herhaal dat getuienis nie vooruitgeloop moet word nie.

Squires het gesê die verslag het 'n openbare dokument geword toe dit Donderdag as bewysstuk by die hof ingehandig is. Hy het bygevoeg dat die media en die publiek dit mag besigtig, maar nie verwyder nie.

Dié versoek van adv. Billy Downer (SC), hoofaanklaer, kom nadat 'n Durbanse Sondagkoerant, die Sunday Tribune, woordeliks uit die verslag aangehaal het nog voordat dit as bewysstuk ingedien is.

Downer het Maandag in die hof beswaar gemaak en dit as "sensasionele" beriggewing bestempel wat "grens aan 'n oortreding van die sub judice-reël". Dit kan ook die regverdigheid van die verhoor in die gedrang bring, het hy gesê.

Hier het Squires ook 'n vermaning aan joernaliste en redakteurs gerig dat bewysstukke eers in 'n hof getoets moet word.

Downer het Donderdag gesê al is die hele verslag as bewysstuk ingedien, wil hy voorkom dat joernaliste uit dele daarvan aanhaal waaroor eers later getuienis gelei gaan word.

Buiten die hoofverslag, wat vroeër aan die verdediging beskikbaar gestel is, is daar ook 'n addendum wat bygevoeg is om sekere standpunte te kwalifiseer aan die hand van inligting wat later bekend geword het, het Downer gesê.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.