Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-26 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

Shaik Vul Poste Glo met Vriende se Kinders

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-26

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Hy het die indruk gekry dat mnr. Schabir Shaik poste by Prodiba gevul het met die kinders van sy vriende, het die bestuurder van dié maatskappy wat kaartrybewyse vir die regering vervaardig, hier in die hooggeregshof getuig.

Mnr. Johan Vorster, voormalige bestuurder van Prodiba, het getuig in die bedrog- en korrupsieverhoor van Shaik.

Die bedrogklag waarop Shaik teregstaan, spruit onder meer uit die afskrywing van sowat R1,2 miljoen se leningsrekenings as "ontwikkelingskoste" vir die rybewyskontrak in die 1999-boekjaar in sy Nkobi-groep se boeke.

Nkobi het in daardie boekjaar geen ontwikkelingskoste gehad vir die R263 miljoen-kontrak nie, het Vorster getuig.

Prodiba, 'n gesamentlike onderneming tussen Nkobi en sy twee ander vennote, het in Maart 1999 in bedryf getree.

Prodiba het Nkobi vroeër R650 000 betaal om ontwikkelingskoste te vergoed, het Vorster getuig.

Volgens Shaik het hy hom op sy ouditeurs en boekhouer verlaat toe die afskrywing gedoen is. Dit is in die 2002-boekjaar teruggeskryf nadat die Skerpioene se bedrogondersoek aan die lig gekom het, het die hof gehoor.

Benewens toekomstige dividende sou Nkobi volgens Vorster 'n verdienste uit Prodiba gekry het deur van die personeellede te verskaf. Prodiba betaal Nkobi 'n vasgestelde bedrag wat deels gebruik kon word om die werknemers se salarisse te betaal.

Die meeste van die poste was vir ongeskoolde of halfgeskoolde arbeid om die kaartrybewyse te vervaardig, het Vorster getuig. Dié mense is in Gauteng namens Nkobi deur Prodiba gewerf.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.