'Waarskynlik' dat Shaik dié Nota Skryf |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-18 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - 'n Aantekening in 'n kontrak, wat na bewering 'n rookskerm vir die omkoop van adj.pres. Jacob Zuma was, is "hoogs waarskynlik" deur mnr. Schabir Shaik gedoen.
Dít was Donderdag die getuienis van mnr. Marius Rehder, 'n handskrifontleder van die polisie se forensiese laboratorium, in Shaik se verhoor op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Die staat beweer die aantekening, "strydig met bedoeling", langs 'n anti-korrupsieklousule in 'n diensverskafferooreenkoms tussen Shaik en Thomson-CSF is een van die bewyse dat hulle Zuma omgekoop het.
Zuma is glo in Maart 2000 omgekoop om dié Franse verdedigingsmaatskappy te beskerm in die ondersoek na beweerde onreëlmatighede met Suid-Afrika se wapenpakket. Om die omkoopgeld te verberg, het Shaik en Thomson volgens die staat dié diensverskafferooreenkoms in Desember 2000 gesluit.
Rehder het getuig die aantekening is te bondig om 'n definitiewe gevolgtrekking te maak nadat hy dit met ander voorbeelde van Shaik se handskrif vergelyk het.
Dis egter hoogs waarskynlik dat dié nota deur Shaik gedoen is.
Adv. François van Zyl (SC), vir die verdediging, het gesê Shaik ontken of erken nie dat hy die aantekening gedoen het nie, maar hulle aanvaar Rehder se bevinding dat dit Shaik se handskrif is.
Rehder het ook bevestig dat mnr. Alain Thétard, 'n Thomson- direkteur in Suid-Afrika, 'n nota geskryf het wat verbind word met een van die staat se sleutelbewysstukke.
Volgens Thétard se voormalige sekretaresse, mev. Sue Delique, het Thétard dié nota aan haar gegee om te tik en per gekodeerde fakslyn na sy meerderes in Frankryk te stuur. Daarin bevestig Thétard glo dat Zuma vir R500 000 per jaar omgekoop is om Thomson te beskerm en hul sakeprojekte te steun.
Die verdediging betwis die toelaatbaarheid van die faks as bewysstuk en is ook van plan om Delique se geloofwaardigheid te bevraagteken. Thétard het vroeër vanjaar as deel van 'n ooreenkoms tussen die Nasionale Vervolgingsgesag en Thales (voorheen Thomson-CSF) in 'n verklaring erken dat hy die outeur van die faks was.
Hy het later 'n tweede verkla ring afgelê waarin hy gesê het die handgeskrewe nota was losstaande gedagtes wat hy op 'n stuk papier geskryf en weggegooi het.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.