Publication: Beeld Issued: Date: 2005-01-26 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Wakkerlê-Kroon op Zuma se Kop

 

Publication 

Beeld

Date

2005-01-26

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

As adj.pres. Jacob Zuma van volgende week af sy naels kou, hoef mens nie te wonder oor die rede nie

Slaap adj.pres. Jacob Zuma saans rustig of rol hy rond van bekommernis oor wat die jaar vir hom inhou?

En lees hy soggens koerant voordat hy sy staatswoning in Pretoria of Kaapstad verlaat? Pla dit hom dat sy beroerde geldsake op al wat voorblad is pryk?

En hoe voel hy oor die titel "Mamparra van die jaar" wat 'n Sondagkoerant einde verlede jaar aan hom toegeken het?

'n Mens wonder. Want Maandag begin die belangrikste tydperk in Zuma se politieke loopbaan wanneer die Schabir Shaik-verhoor in Durban hervat word - in sy afwesigheid.

Wanneer die staat sy saak gesluit het en Shaik, Zuma se finansiële adviseur, 'n beurt gehad het om sy onskuld te bewys, is dit regter Hilary Squires wat sal moet besluit wie se storie die naaste aan die waarheid is.

As Shaik sink, is dit die einde van Zuma, word gesê. En as Shaik staan, kan Zuma pres. Thabo Mbeki opvolg as Suid-Afrika se president.

Die berugte Franse faks

Zuma word ten nouste by die twee aanklagte van korrupsie teen Shaik betrek. Met die eerste klag beweer die staat Shaik het oor 'n tydperk van ses jaar ongeveer R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gedoen.

In ruil het Zuma sy invloed gebruik om allerlei kontrakte en tenders vir Shaik se Nkobi Holdings te beding. 'n Briefhoof hier en 'n oproep daar. Só het Zuma volgens die staat sy ou comrade en vriend vergoed vir dié gul monetêre gunsies.

Oor aanklag 3 word die meeste geskryf: die bewering dat Shaik 'n omkoopooreenkoms tussen Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF sou reël waarvolgens Zuma R500 000 per jaar sou ontvang in ruil vir die beskerming van Thomson-CSF teen 'n wapenondersoek en vir die bevordering van dié maatskappy se belange in Suid-Afrika.

Die hoofbewysstuk vir dié aanklag is die berugte gekodeerde Franse faks wat glo die omkooptransaksie tussen Zuma en Thomson-CSF bevestig.

'n Kopie daarvan, wat 'n voormalige Thomson-sekretaresse glo op 'n rekenaarskyfie ontdek het, is voorlopig by die hof ingedien. Shaik se regspan het egter vroeër aangedui hulle gaan beswaar maak teen hierdie en ander dokumente waarop die staat se saak berus.

Die staat se tameletjie is dat mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF en outeur van die beweerde omkoopfaks, nie bereid is om sy voete in Suid-Afrika te sit nie uit vrees vir vervolging.

As die staat reg is, was Thétard, Shaik en Zuma partye tot die pleeg van 'n misdaad. Die Korrupsiewet van 1992 maak voorsiening vir die deler en die steler om vervolg te word.

As die hof dus die gekodeerde Franse faks as 'n bewysstuk vir korrupsie aanvaar, is die deur oop vir die staat om Zuma én Thétard te vervolg.

Die staat het by die begin van die Shaik-verhoor die aanklagte teen Thomson-CSF teruggetrek, maar kan ná die Shaik-uitspraak sy besluit heroorweeg.

Net so is daar gesê 'n prima facie-saak bestaan teen Zuma, maar dat dit nie noodwendig 'n saak is wat in die hof gewen gaan word nie.

Zuma was erg beswaard hieroor, het gesê sy grondwetlike regte is aangetas en adv. Bulelani Ngcuka, voormalige direkteur van opbenare vervolging, daarvoor by die openbare beskermer (OB) verkla.

Wat Zuma egter nog meer moet bekommer, was die res van Ngcuka se kommentaar destyds. "As daar nuwe getuienis na vore kom," het hy gesê, "sal die nasionale vervolgingsgesag (NV) beslis wéér vervolging oorweeg".

Daarmee het Ngcuka 'n swaard bo Zuma se kop gehang wat net kan verdwyn as Shaik later vanjaar as 'n vry man uit die Durbanse hooggeregshof stap.

'Hallo, my broer'

Getuienis tot dusver in die Shaik-verhoor het niks goeds gedoen vir Zuma se openbare beeld as die land se kroonprins nie.

Nog minder het dit sy voorbeeld as leidsman van die regering se morele herlewingsprojek versterk, om nie eens te praat van sy Tuynhuys-aspirasies nie...

Die tafel is gedek vir 'n riller-einde van 'n hofsaak wat lotsbepalend vir sowel Shaik as Zuma se loopbane is.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.