'Chippy Shaik het Wapenaankope Gedryf' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-23 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Beleid vir die aankoop van buitelandse wapens is glo tydens die regering se omstrede wapentransaksie deur mnr. Schabir Shaik se broer Chippy, destydse hoof van die weermag se wapenaankope, geskep.
Só het mnr. Dawie Griesel, Krygkor se assistant-bestuurder van aankope, Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof getuig.
Mnr. Chippy Shaik se rol in die wapentransaksie is Dinsdag deur Griesel toegelig in sy getuienis oor die "formele" proses wat gevolg is met die aankoop van wapens.
Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
In sy openingsbetoog het adv. Billy Downer, SC, namens die staat, gesê hy wil bewys dat daar 'n informele proses bestaan het met die wapenaankope wat parallel met die formele proses geloop het.
Volgens Griesel het die departement van verdediging in 1996 'n oorsigvoorlegging van sy behoeftes aan die parlement gemaak wat gelei het tot aankope van 'n "strategiese wapenpakket" in 1998.
Vier korvette was deel van die pakket. Schabir Shaik het voordeel uit die wapentransaksie getrek deur sy aandeelhouding in African Defence Systems (ADS), wat die kontrak van R1,3 miljard gekry het vir die verskaffing van gevegsuites vir die korvette.
Volgens Griesel was dit "nie deel van die normale proses" dat die kabinet uiteindelik besluit het wie die suksesvolle verskaffers is nie.
"Hierdie besluit (oor die wapenverskaffers) is nie geneem deur Krygkor nie, maar deur die kabinet. Krygkor het dit daarna bekragtig," het Griesel getuig.
Griesel het Chippy Shaik, wat mede-voorsitter van die strategiese bodkomitee (Sofcom) was, bygestaan in sy aanbiedings aan amptelike liggame wat "normaalweg" oor die aankoop van wapens besluit het.
"Chippy Shaik het besluit wat die volgende stap (in die aankoopproses) sou wees. Hy het die proses tot 'n baie groot mate gedryf," het Griesel getuig. Volgens hom het hierdie proses erg van die normale een verskil, maar was daar geen beleid in plek vir die aankoop van buitelandse wapens nie.
Chippy Shaik is in 2001 deur mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, geskors nadat hy glo vertroulike dokumente oor die wapentransaksie aan Schabir gegee het.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.